In sy jongste weerverslag sê Van den Berg dit kom voor of die La Niña-stelsel begin verswak, maar dat reën steeds in Maart en April kan voorkom. “Voorspellings dui tans op ’n taamlik goeie kans dat minstens nog 50 mm kan val, veral in die sentrale tot westelike dele van die land.”

’n Goeie kans op reën in dié tydperk word ook vir die sentrale en noordelike dele van Namibië voorspel. 

Te min afloopwater

Die reën wat in die somerreëngebied voorgekom het, was te min om noemenswaardige afloopwater na damme te veroorsaak. Van den Berg sê die beskikbaarheid van oppervlak- en grondwater vir besproeiing en menslike gebruik het nou ’n groot risiko in bykans die hele Suid-Afrika geword.

Volgens hom is die kans op ryp voor April laag. “Hitte-eenhede gaan dalk drasties afneem indien die verwagte reënval en bewolkte toestande in Maart en April voorkom.”          

Stand van aanplantings

Die wydverspreide reën wat in Februarie en die eerste deel van Maart in veral die sentrale tot westelike en noordelike dele van die land voorgekom het, het gewissel van 5 mm tot 60 mm. Volgens Van den Berg is dié neerslae ondergemiddeld, maar dit het op die regte tye geval. “Februarie en Maart is die deurslaggewendste maande vir somergrane en weiveldgroei, veral in die sentrale tot westelike dele. Daar is egter steeds kleiner kolle in hierdie gebiede wat baie min reën gekry het.”

As 20 mm tot 40 mm reën tot einde April in die somergraanproduksiegebiede voorkom, kan goeie oeste behaal word. Min reën in die somergraanproduksiegebiede van Mpumalanga in Februarie en die eerste deel van Maart het wel veroorsaak dat die graan droogteskade begin ervaar. “Die graan is ver gevorder, maar die pitmassa en -gehalte kan nadelig geraak word,” aldus Van den Berg.   

“Tans is die risiko vir koueskade nog baie hoog, want graan is in die algemeen laat geplant. Indien ryp voor middel April voorkom, kan dit skade aan die mielie- en sonneblomoes in die sentrale en westelike dele veroorsaak.”