Mnr. Adriaan Groenewald, wat vir van die boere in die saak opgetree het, sê die regters van die hooggeregshof in Pretoria het bevind regte mag wel oorgedra word, mits die staat die persoon of entiteit benoem aan wie dit oorgedra word, en dit nie verhandel word nie.

Groenewald en Agri SA sê die uitspraak het verreikende implikasies, nie net vir die landbou nie, maar ook vir die myn- en nywerheidsektor. “Hulle is afhanklik van die vrye handel in watergebruikregte, onderhewig aan die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998),” sê Groenewald.

Die uitspraak bring volgens hom onsekerheid of die oordragte van die afgelope 20 jaar nou onwettig en ongeldig is.

EIENDOMSREGTE ONTNEEM

“Moontlik die grootste bekommernis is dat die grondwetlike beskerming vir watergebruikregte, soos vervat in die Handves van Menseregte, deur die uitspraak ondermyn word, in so ’n mate dat die beskerming met betrekking tot onder meer eiendomsregte en die reg op vrye ekonomiese bedrywighede, op ’n onregverdige wyse weggekalwe sal word, totaal teenstrydig met die Grondwet, en ’n ontneming van eiendomsregte tot gevolg sal hê.”

Regters Billy Mothle, N.M. Mavundla en Natvarlil Ranchod het verlede Oktober betoë in drie sake aangehoor waarin die hof gevra is om ’n verklarende bevel te maak oor hoe art. 25(2) van die Nasionale Waterwet rakende die oordrag van ’n waterreg na ’n derde persoon geïnterpreteer moet word.

Mnr. Casper Lötter, namens die Doornkraal-besigheidstrust van die Oos-Kaap, het die een saak gebring en is finansieel deur Agri SA gesteun. Die trust het waterregte in sy omgewing gekoop om sy bedrywighede uit te brei, maar sy lisensie-aansoek is deur die departement van water en sanitasie afgekeur vanweë ’n interpretasie in ’n interne departementele omsendbrief van 19 Januarie 2018 dat art. 25(2) nie voorsiening maak vir die oordrag van waterregte na ’n derde persoon nie.

Die verhoor van die aansoeke van nóg boere en die Suid-Afrikaanse vereniging vir watergebruikersverenigings (SAAFWUA), wat soortgelyke probleme met die interpretasie van art. 25 ervaar het, is later met dié aansoek gekonsolideer. Die een groep applikante was mnr. Francois Wiid, Torqhoff Boerdery en die De Kalk Trust van die Hopetown-omgewing in die Noord-Kaap, en die ander groep was SAAFWUA, Eagle’s Nest Investments en Thusano Empowerment Farm.

MONOPOLIE

In hul uitspraak sê die regters die verkoop van watergebruiksregte “diskrimineer teen diegene wat nie die pryse of vergoeding kan bekostig waartoe die houer eensydig besluit het nie”. Volgens hulle hou die verkoop van waterregte die monopolie in stand waarin net gevestigde boere met goeie finansiële hulpbronne toegang tot waterhulpbronne het.

Die regters sê die verkoop van regte sou die houers daarvan toelaat om te kies wie dit ontvang en dit sal tot die privatisering van ’n nasionale hulpbron lei. Die verkoop van regte sou ook “gelyke toegang frustreer en histories benadeelde persone uit die landbou hou”. Die regters het bevind dat die verkoop van regte nie strook met die gees, bedoeling en doelwitte van die Handves van Menseregte nie.

APPÈl moontlik

Volgens Groenewald sal een van die gevolge van dié uitspraak egter juis wees dat dit oordragte na opkomende boere sal verhinder. Verder kan dit die sekuriteit van landbougrond benadeel.

“Waardasies van landbou-eiendom is gebaseer op die gebruiker se vermoë om die eiendom tot sy volle potensiaal te ontwikkel, gebruik en indien nodig, te verhandel, wat onlosmaaklik verbind is en in baie opsigte afhang van geldige en wettige verhandeling van watergebruikregte.

“Die reg tot die gebruik van besproeiing is onlosmaaklik verbind tot die reg van verhandeling, verhuring of ander reëlings met betrekking tot oordrag van watergebruikregte.

“Die finansiële sektor, kredietvoorsieners en banke baseer hul besluite op die bestaan van watergebruikregte. Om die burgers van Suid-Afrika daarvan te weerhou om handel te dryf in watergebruikregte, sal ’n ineenstorting van huidige bestaande norme vir ekonomiese finansiering meebring.”

Die eiendom waaraan die watergebruikregte kleef, is dikwels nie die eiendom betrokke in die landbou-, myn- of industriële sake-onderneming nie, maar deur handelsooreenkomste word die regte verkoop, oorgedra en verhuur. “Dié bedrywighede vind daagliks plaas en verteenwoordig ’n hoeksteen van ekonomiese bedrywigheid.”

BELEID nie voor wet

Groenewald sê regslui is verbaas dat die regters se bevinding dat watergebruikregte nie verhandel mag word, gegrond is op ’n 2013-beleidsdokument waarvolgens verhandeling nie die gees van die Waterwet verteenwoordig nie, maar wat terselfdertyd lui dat beleid nie voor die wet gestel kan word nie.

“Daar is duidelike regspraak, wat deur adv. André la Grange SC (namens boere) aan die hof voorgehou is, wat bevestig dat ’n wet beleid verteenwoordig en dat beleid dus nie ingespan kan word om ’n wet aan te pas nie.”

Die uitspraak handel volgens hom ook nie met die vereistes vir lisensies soos uiteengesit in art. 27 nie, ingevolge waarvan ’n aansoeker aan ’n hele rits vereistes moet voldoen, met die finale besluit wat te alle tye by die minister berus. Teen druktyd het die regspan vir finale opdragte rakende ’n appèl gewag. ’n Aansoek om te appelleer moes teen 10 Julie ingedien word.