Die Wes-Kaapse regering sê verskeie plase het die afgelope seisoen nie ’n druppel reën gesien nie, terwyl hulle jare lank reeds onder droogtetoestande gebuk gaan.

Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê ’n aantal langtermynprojekte is begin om permanente oplossings te vind vir die benarde omstandighede waarin sommige boere hulself bevind.

Een van dié projekte is die rehabilitasie van die Soutkloofspruit by Laingsburg. “Hierdie gebied bly ’n bekommernis weens die gebrek aan reënval in die opvangsgebied. Benewens hierdie projek sal ons ook begin soek na ondergrondse waterbronne in die suidwestelike dele van die distrik Beaufort-Wes. Ons departement is ook betrokke by die Kannaland-munisipaliteit waar ons opleiding in droogtebestuur aan munisipale beamptes bied.”

Die Gamkadam was op 7 Junie 2019 45% vol. Foto: Curvin Alexander
Die Gamkadam was op 8 November 2018 basies leeg. Foto: JB Styan
Die Gamkadam soos afgeneem op 8 November 2018. Foto: JB Styan
Die Gamkadam was vir twee jaar leeg. Hierdie foto is op 8 November 2018 geneem. Foto: JB Styan

Hoewel die departement optimisties is oor die vooruitsig op reën in die provinsie vandeesweek en in die res van die winter, maan Bredell mense om steeds water spaarsamig te gebruik.

Die gemiddelde vlak van die Wes-Kaapse damme het die afgelope week tot 34,9% gestyg. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar het die damvlakke op gemiddeld 25,9% gestaan. Daar val egter aansienlik meer reën in sommige gebiede in die Wes-Kaap as ander. Die damme wat die Stad Kaapstad van water voorsien, is tans 47,5% vol.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.