Ingevolge die regulasies wat verlede week afgekondig is, mag plaaswagte en gemeenskapsveiligheidforums nie met hul bedrywighede voortgaan nie.

“Ons is in dringende gesprekke met die regering hieroor, want veral sigbaarheid help in die stryd teen misdaad in landelike gebiede,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee.

“TLU SA druk hard vir duidelikheid hieroor en ook vir die staat om te verstaan dat dit noodsaaklik is dat diegene wat voedsel aan die land moet lewer, in veral dié tydperk veilig gehou moet word,” sê mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee. Wat vir hom die situasie verder kompliseer, is dat sommige polisiekantore boere toelaat om met plaaswagbedrywighede voort te gaan in dié tyd.

Veediefstal en aanvalle

Geldenhuys sê sedert verlede week het verskeie aanvalle op plase voorgekom. “En ons sien reeds ’n styging in veral veediefstal.”

Volgens Esterhuyse is hulle veral bekommerd oor die situasie wat kan ontstaan oor twee weke wanneer mense nie meer geld oor het nie en hulle hulle na misdaad soos veediefstal kan wend vir oorlewing.

Hy sê in die lig van die inperkingsmaatreëls stel Agri SA voor dat diegene wat deel vorm van plaaswagte, net rondry vir observasie en nie in kontak met mekaar kom nie.

“Boere wat patrollies ry, kan elk met hul eie voertuie saam-saam ry, sodat hulle steeds ’n veilige afstand van mekaar kan hou,” sê Geldenhuys.

Hou by regulasies

Die DA het gister ’n versoek aan mnr. Bheki Cele, minister van polisie, gestuur dat bestaande gemeenskapsveiligheidsforums in landelike gebiede die polisie moet kan bystaan tydens die inperkingsperiode.

Mnr. Andrew Whitfield, die DA se skaduminister vir polisie, sê die party ondersteun die polisie se instruksie dat gemeenskapsveiligheidstrukture in stedelike gebiede nie werk nie aangesien die koronavirus veral in dig bevolkte gebiede vinnig kan versprei. “Landelike gebiede is egter nie dig bevolk nie en (die gemeenskappe) is toenemend blootgestel aan misdadige elemente gedurende die inperkingstydperk, terwyl die polisie moet konsentreer op die toepassing van die regulasies (van bewegingsbeperking). Dit is belangrik dat die polisie, van kantoor tot kantoor, die ontplooiing van gemeenskapsveiligheidstrukture om hul oë en ore in landelike gebiede te wees, moet oorweeg.” 

Whitfield sê dit is uiters belangrik dat lede van die veiligheidstrukture binne die bestaande bevelstrukture moet werk en al die regulasies wat toegepas moet word, nougeset navolg, ook om die verspreiding van die koronavirus te beperk.