Tydens die nasionale veediefstalvoorkomingsforum se mees onlangse vergadering is aangedui dat dié provinsies die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Vrystaat is. Luidens ’n verklaring van die forum het die diefstal van bokke in Mpumalanga toegeneem.

As deel van die polisie se pogings om veediefstal te bekamp, het hul eenheid vir veediefstal en bedreigde wildspesies altesaam 30 polisiestasies regoor die land geïdentifiseer wat ernstige aandag vereis omdat hulle as sogenaamde brandpuntstasies beskou word. Die meeste van dié stasies is in die Oos-Kaap geleë.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê veediefstal is ’n groot probleem in die Vrystaat aangesien dit aan die Oos-Kaap én Lesotho grens. Sy sê by ’n onlangse vergadering van die grensveiligheidsforum, onder leiding van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), is ’n toename in veediefstal op die Lesotho-grens aangeteken.

“Dit is ’n algemene verskynsel in die aanloop tot die feestyd dat eiendomsverwante misdade, soos veediefstal, veral by die grens met Lesotho toeneem.” Buys sê dis belangrik om in gedagte te hou dat veediefstal nie net weens sogenaamde ‘potslag’ plaasvind nie, maar dat dit ’n georganiseerde misdaad is wat deur groepe en misdaadsindikate bedryf word.

“VL wys al vir jare uit dat veediefstal georganiseerd van aard is, dat vee op groot skaal gesteel en met bakkies, sleepwaens en vragmotors vervoer word na afsetgebiede en/of markte wat meerendeels in ander provinsies soos Gauteng geleë is.

Buys wil ook boere se aandag vestig op ’n tendens wat die organisasie se veiligheidsafdeling in die vorige finansiële jaar opgemerk het, naamlik dat daar tydens ses plaasaanvalle in die Vrystaat vee geroof is.

“Dit wil voorkom asof dié tendens in ander provinsies ook voorkom.” Boere moet dus toesien dat hulle hulself, hul families, hul werkers en hul eiendom beskerm.

“Dit is ook noodsaaklik om betrokke en ingeskakel te wees by veiligheidstrukture in jou onmiddellike omgewing om voorkomend te kan optree,” sê Buys.

Wenke

As deel van hul wenke om veediefstal te voorkom, maan die forum boere om hul lewende hawe gereeld te tel en dié praktyk nie tydens die plantseisoen agterweë te laat nie. “As die vee eers ná die plantseisoen getel word, is dit eenvoudig te laat om iets aan die saak te doen indien vee vermis word,” sê die forum.

Uit ’n kriminologiese oogpunt word boere aangeraai om die roetines op hul plase gereeld te verander. Oortreders kan inligting oor die roetines op plase verkry, en produsente wat dit nie gereeld aanpas nie loop ’n groter risiko om slagoffers van veediefstal te word as diegene wat nie ’n streng roetine volg nie.

Van die aspekte wat onder meer verander kan word sluit in om diere nie elke dag op dieselfde tyd te tel nie, en ook om veeposte nie daagliks op dieselfde tyd te besoek nie. Buys raai boere aan om veeregisters by te hou en toe te sien dat hulle vee met ’n geregistreerde brand- of tatoeëermerk gemerk is.

Vee moet op ’n jong ouderdom (’n maand of selfs jonger) gebrandmerk of getatoeëer word sodat die diere uitgeken kan word en die SAPD gesteelde vee wat gevind word aan eienaars kan terugbesorg. Boere word ook herinner om Agri SA se plaasprotokol vir toegang tot plase toe te pas en ’n besoekersregister by te hou.

Vee-eienaars moet toesien dat die korrekte dokumentasie vee vergesel wanneer hulle verkoop en vervoer word. Buys raai boere aan om in te skakel by plaaslike veiligheidstrukture, voorkomingsforums en/of veediefstalinligtingsentrums sodat hulle op hoogte van tendense kan bly en verdagte persone en/of voertuie by die nodige strukture en owerhede kan aanmeld.

Voornemende veekopers moet seker maak dat hulle nie gesteelde vee aankoop nie, veral waar geen brandmerke voorkom nie of waar onvolledige dokumentasie verskaf is. Die polisie se mandaat vir veediefstal fokus ook op besoeke aan kopers, vendusies, veekrale en slagpale, om toe te sien dat gesteelde vee nie verkoop word nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.