Dit is 1,71% of 249 190 ton meer as die vorige skatting van 14,560 miljoen ton.

Die skattings vir sonneblom, sojabone en grondbone lyk ook beter as voorheen. Dit verskaf heelwat gerusstelling oor Suid-Afrika se vermoë om genoeg voedsel beskikbaar te hê tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie.

“Die goeie seisoen is nie net goeie nuus wat die bruto binnelandse produk betref nie, maar die vooruitsig van hoër voorraadvlakke sal voedselinflasie onder bedwang hou, selfs al verswak die rand,” sê mnr. Paul Makube, ’n landbou-ekonoom van FNB. Hy sê die swakker rand is ook voordelig vir landbou-uitvoer.

Die NOK se hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,611 miljoen hektaar en die verwagte opbrengs is 5,67 t/ha.

Presies hoe voorspoedig die huidige somerseisoen is, blyk uit die reuse-styging van 31% wat vanjaar se geskatte mielieoes groter kan wees as die 2019-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede – die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes – gaan volgens die NOK na verwagting 83% van die 2020-oes lewer.

Die witmielieskatting is met 2,86% tot 8,523 miljoen ton verhoog met ’n opbrengs van 5,27 t/ha. In die geval van geelmielies is die skatting 6,286 miljoen ton – 0,20% of 112 550 ton meer as die vorige skatting van 6,273 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 6,32 t/ha.

Die produskieskatting vir sonneblomsaad is 731 210 ton. Dit is 4,59% of 32 080 ton meer as die vorige skatting van 699 130 ton. Die verwagte opbrengs is 1,46 t/ha.

In die geval van sojabone is die produksieskatting ook opwaarts aangepas – met 2,11% of 26 200 ton na 1,269 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 1,80 t/ha.

Die skatting vir sorghum is nou 1,69% of 2 280 ton minder – die vorige skatting was 135 090 ton tot 132 810 ton.

Die verwagte grondbone-oes is op 56 060 ton gestel. Dit is 3,07% of 1 670 ton meer as die vorige skatting van 54 390 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 37 500 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,49 t/ha.

Droëbone se produksieskatting is onveranderd gelaat op 72 910 ton. Die oppervlakte wat met droëbone beplant is, is 50 150 ha. Die verwagte opbrengs is 1,45 t/ha.