Besproeiingsrade moes eintlik reeds ses maande ná die inwerkingtreding van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) omgeskakel het in watergebruikersverenigings wat nie net landbougebruikers nie, maar alle relevante watergebruikers verteenwoordig. Verskeie probleme het dié proses meer as 20 jaar laat sloer.

Me. Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het besproeiingsrade op 23 Maart 2020 ingelig dat sy nou ’n plan vir dié proses goedgekeur het.

Knoetze sê rade moet teen 31 Maart 2021 voorstelle indien van hoe hul te stigte verenigings gaan funksioneer, asook voorgestelde grondwette.

“Rade moet besef dié proses is die laaste geleentheid om te verseker dat waterbronbestuur plaaslik gevestig word, waar dit hoort,” sê Knoetze.

Drie vlakke

Die wet maak uitdruklik vir drie vlakke van waterbestuur voorsiening, naamlik die minister, wat kragtens die nasionale waterbronstrategie die nasionale bewaarder van water is, die agentskappe vir die bestuur van opvangsgebiede (die sogenaamde CMA’s), wat kragtens die opvangsgebiedstrategie die verantwoordelike gesagsowerhede is, en watergebruikersverenigings.

Volgens Knoetze is daar sowat 220 besproeiingsrade en byna 100 watergebruikersverenigings. Hulle verteenwoordig byna die helfte van alle besproeiings- en ander watergebruiksregte en bestuur dit redelik doeltreffend.

Die res van die besproeiingswatergebruikersregte val nog regstreeks onder die nasionale departement en CMA’s. Min doeltreffende onttrekkingsbeheer vind volgens hom hiér plaas.

Rade se gesag

Besproeiingsrade funksioneer nog kragtens die ou Waterwet (Wet 54 van 1956), maar Knoetze sê hul regsentiteit word uitgedaag omdat hulle kwansuis nie kragtens dié wet waterbestuursinstellings is nie.

“Ek verskil van dié mening, want die 1998-wet stel dit uitdruklik in sy definisie van ’n waterbestuursinstelling dat dit die minister, ’n CMA, ’n watergebruikersvereniging, of enige persoon is wat die werksaamhede van ’n watersbestuursinstelling ingevolge die wet vervul.”

Sloering

Knoetze sê een van die probleme om rade na verenigings om te skakel, was die aanvanklike vereistes vir ras- en geslagverteenwoordiging, wat intussen verander is.

Verder het rade weerstand gebied teen veranderings en samesmeltings, omdat die voorgestelde subgebiede van die nuuutgestigte verenigings verskillende bates, skulde, infrastruktuur en tariewe gehad het.

Om sake verder te bemoeilik, het die departement in 2013 gesê die minister sou eensydig ’n datum bepaal waarop plaaslike waterbestuursinstellings ontbind sou word.

Die feit dat die departement gereeld nuwe ministers en bestuurders gekry het, het vordering verder gekniehalter.

Knoetze sê die SAAFWUA het deurlopend, op verskeie forums en in talle vergaderings, met die departement bly onderhandel om die beginsel van plaaslike waterbestuursinstellings te behou, soos wat dit in die wet omskryf word.

Watergebruikersverenigings wat intussen gestig is waar besproeiingsrade saamgesmelt het, kon deur die gebruik van subgebiede en gedifferensieerde tariewe die vrese oor verskillende bates, skulde en onttrekkingsmetodes uit die weg ruim.

nic knoetze
Mnr. Nic Knoetze. Foto: Verskaf

Proses vorentoe

Die wet beskryf onder meer die prosedure vir die stigting van ’n vereniging, wat sy grondwet moet behels, sy bevoegdhede, oorgangsbepalings en hoe dit moet ontbind, indien nodig.

Elke raad moet nou, saam met ander gebruikers, in ’n voorstel en voorgestelde grondwet sy voorgestelde bedryfsgebied motiveer.

CMA’s en streekkantore sal bepaal hoe verenigings ten beste saamgestel kan word om in elke waterbestuursgebied water op plaaslike vlak te bestuur.

“Ons moet besef ons moet dééglik besin hoe die voorgestelde verenigings gestruktureer gaan word, sodat daar vir alle kategorieë watergebruikers, binne die voorgestelde bedryfsgebiede, doeltreffende en geïntegreerde waterbronbestuur gedoen kan word,” sê Knoetze.

“Dit is baie belangrik dat verenigings verstaan dat hulle, as verlengstuk van die departement, maatskaplike verantwoordelikhede het.”

Die SAAFWUA was deel van ’n span wat ’n kontrolelys en beginsels vir die omskakeling opgestel het, wat die CMA’s en streekkantore sal gebruik vir die evaluering van te stigte verenigings se voorstelle en voorgestelde grondwette.

Moontlikhede

Knoetze sê rade en/of verenigings moet verskillende moontlikhede oorweeg:

  • ’n Besproeiingsraad kan na ’n watergebruiksvereniging omskakel met die insluiting van alle watergebruikers in die voorgestelde bedryfsgebied. Knoetze sê gebruikers moet onthou dat besproeiing uit boorgate ook bestuur moet word.
  • ’n Besproeiingsraad kan in die omskakelingsproses met ’n aangrensende raad, of rade, en ander gebruikers saamsmelt deur in sy nuwe struktuur voorsiening te maak vir sogenaamde subgebiede met hul eie bestuurskomitees en gedifferensieerde tariewe.
  • ’n Besproeiingsraad kan ’n vereniging stig, maar ’n ooreenkoms met ’n bestaande vereniging sluit om, teen ’n tarief wat waterbestuurskoste bekostigbaar hou, alle bestuursfunksies te verrig.
  • Bestaande verenigings kan herstruktureer om met aangrensende besproeiingsrade en/of private gebruikers saam te smelt, en in die proses ook subgebiede skep wat hul eie bestuurskomitees en gedifferensieerde tariewe het. Elke subgebied kan sy eie koste hê en oorhoofse koste kan gedeel word, en verteenwoordiging in die hoofbestuurskomitee kan op ’n voorgeskrewe manier bereken word.

Sodra inperkingsregulasies dit toelaat, gaan inligtingsvergaderings landwyd gehou word om seker te maak dat die proses dié keer doeltreffend verloop.

Die SAAFWUA sal dit reël saam met senior personeel van die nasionale departement, asook die relevante CMA en/of streekkantoor se verteenwoordigers, en met die samewerking van Agri SA, TLU SA, Afasa en Nafu.

Die SAAFWUA verteenwoordig 70% van alle watergebruikersverenigings en besproeiingsrade, wat meer as 600 000 ha besproeiing bestuur.

“Die departement erken die rol wat die SAAFWUA speel om op ’n verantwoordelike manier kollektief namens plaaslike waterbestuursinstellings te onderhandel en raadpleeg om te verseker dat die regte klimaat geskep word waarbinne verenigings hul gedelegeerde magte uitgevoer kan word,” sê Knoetze.