Volgens die Daily Dispatch is daar gedurende die inperkingstydperk by 13 poskantore reg oor die Oos-Kaap ingebreek. Meer as R8 miljoen kontant, wat vir Covid-19-toelaes bestem was, is na bewering deur rowers en werknemers van die poskantoor gesteel.

Die beskuldigde, wat die wegkomkar bestuur het, is aangekeer nadat hy en medebeskuldigdes die poskantoor op Dordrecht van meer as R700 000 beroof het. Hy is ’n ambulansbestuurder vir die departement van gesondheid.

“Die veediefstaleenheid het inligting gekry dat hy in besit was van vee en het plaaslike boere gevra om te gaan kyk en dit is waar die hele storie oopgevlek is,” sê mnr. Peter Cloete, ’n skaapboer in die distrik Dordrecht.

Volgens Cloete word lank reeds vermoed dat die beskuldigde betrokke is by veediefstal, maar tot dusver kon geen bewyse teen hom gevind word nie.

Die beskuldigde is onlangs naby Elliot met gesteelde beeste aangekeer, en was toe uit op borgtog.

Volgens kapt. Sithole van die veediefstaleenheid op Elliot is 123 lewende skape in die beskuldigde se besit gevind. Van die vee is verlede jaar reeds gesteel. “Ons is baie verlig oor die inhegtenisneming aangesien die beskuldigde betrokke was by veediefstal in ’n wye area. Hy steel orals.”

Hy sê veediefstal is ’n groot probleem in die gebied en dat die beskuldigde ’n groot rol speel daarin. Die moontlikheid bestaan dat hy deel is van ’n sindikaat waarby baie mense betrokke is. Hulle gebruik vermoedelik ook plaaswerkers om skape te steel.

Volgens Cloete is die skape in haglike toestande aangehou. Die diere se ore is “aan flarde gesny” om tatoeëermerke en oorplaatjies af te sny.

Hy sê die DBV moet betrokke raak om seker te maak die misdadigers word opgesluit. “Ons hoop daar sal ’n voorbeeld van hom gemaak word en dat hy lank sal tronk toe gaan. Hy is ’n gewoontemisdadiger wat betrokke is by veediefstal en die inbrake by poskantore, terwyl hy boonop ’n staatsamptenaar is.”

Volgens Cloete kry die boere goeie ondersteuning van die plaaslike veediefstaleenhede. “Veediefstal in die gebied en die Oos-Kaap is egter buite beheer. Veediefstaleenhede het onvoldoende hulpbronne en dit is waarom min diere teruggevind word.”

Die beskuldigde sal op 22 September in die hof verskyn.