Mnr. George Smuts, wat by die voerbedryf betrokke is en in die gebied bly, sê die reën het met vreeslike donderweer gepaardgegaan. Volgens hom het die reënval gewissel van sowat 15 mm op sommige plekke tot 100 mm en selfs 155 mm op ander. “Dit is wat donderweer maar doen, dit reën nie aaneen nie. So kol-kol het daar plekke verspoel en op ander plekke het dit net 5 mm gereën, maar al die spoelwater is nou in die rivier en op pad na die Gouritzrivier.”

Hy vertel dit het Woensdagaand omstreeks 18:00 begin reën en selfs gehael. Dit het aanhoudend gereën tot Donderdagmiddag. “Ons is natuurlik baie bly oor die reën, maar daar is ook skade. Daar is plekke waar die damwalle gebars het.”

Smuts sê omdat die rivier vir jare nie gevloei het nie, het ’n redelike hoeveelheid plante in die rivierbedding begin groei. Dit het veroorsaak dat die rivier toegegroei het. “Dit is wat oorstromings veroorsaak. As die vloedwater afkom, dam dit op, want die plante blokkeer dit. Dan loop hy oor!”

Soos die water in die rivier afkom, dwing dit egter weer sy pad oop. “Ons behoort in die haak te wees, maar as daar nou weer so ’n klomp water kom, sal dit ’n yslike storie wees.”