Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van die organisasie, het op die jaarlikse kongres by Nampopark buite Bothaville gesê dat die organisasie dankbaar is vir die vordering wat hy al kon maak om nuwe boere te help vestig, maar dat hy besef dat dit na ’n volgende vlak gevoer moet word. “Daar is boere wat al jare lank suksesvol boer, maar steeds nie toegang tot krediet kan kry nie weens die feit dat hulle nie die grond besit waarop hul boer nie.”

Gevolglik het die organisasie besluit om die bedrag van R5 miljoen wat die organisasie vir die ontwikkeling van boere beskikbaar het, as kollateraal beskikbaar te stel.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê hulle onderhandel met Standard Bank wat ook ’n bedrag beskikbaar sal stel. Die organisasie het ook met ander insetverskaffers en belanghebbendes in die waardeketting gesels oor moontlik bydraes. Sowat R40 miljoen kan beskikbaar gemaak word. 

Wie kom in aanmerking?

De Villiers het gesê hulle besef dat die beskikbare bedrag nie baie boere sal kan help nie, maar hulle hoop dat dit die proses in die regte rigting kan stuur, terwyl die bedryf op die staat wag om die voorgestelde landbou-ontwikkelingsagentskap te vestig. “Ons lede het vir ons gesê hulle wag al jare lank en kan nie bekostig om nog twee of drie jaar te wag nie. Dis hoekom ons besluit het om die stap te doen.”

Tans kos dit sowat R10 000 om ’n hektaar mielies aan te plant, terwyl die koste om ’n hektaar mielies onder besproeiing aan te plant tot R25 000 kan beloop.

Slegs opkomende boere wat lid is van Graan SA, sal vir die finansiering mag aansoek doen. “Baie streng kriteria sal gevolg word wanneer besluit word wie kom in aanmerking vir die finansiering.” De Villiers het gesê sal hulle sal spesifiek kyk na die 286 opkomende boere wat lede van Graan SA is en reeds kommersieel boer. Dié groep boere bewerk slegs sowat 30% van die grond wat aan hulle beskikbaar gemaak is, weens die gebrek van finansiering.  

Finansiële instellings sal dié hulpprogram baie gunstig ontvang, het mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, gesê.

“Omdat ’n produsente-organisasie die keuring van die voornemende leners doen, ken hulle elke aansoeker se geskiedenis. Omdat dié boere deel van hul mentorskapprogram is, is hulle reeds toegerus om volhoubaar te boer.”

Nóg ‘n voordeel van die program is dat die risiko tussen drie partye verdeel word, naamlik die boer, die finansiële instelling en Graan SA, het Maree gesê. “Daardie soort finansieringsmodel gee die banke ’n aansporing om betrokke te wees. “

Maree het gesê FNB kyk ook na soortgelyke waarborgmodelle om opkomende boere te help om finansiering te kry. Samesprekings word met oorsese ontwikkelingsagentskappe gevoer juis om te kyk of daar nie van hulle beskikbare finansiering na die opkomende landbou in Suid-Afrika gekanaliseer kan word nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.