Die maatskappy het in 'n handelsverklaring op die JSE se Sens-nuusdiens gesê sy wesensverdienste per aandeel in dié halfjaar sal na verwagting minstens 410% beter wees as in die halfjaar tot einde Maart verlede jaar.

Dié groot verbetering moet gesien word teen die agtergrond van abnormaal hoë voerpryse in die vergelykende halfjaar.

Die gunstige handelstoestande in die tweede helfte van sy 2017-boekjaar het in die huidige halfjaar voortgeduur.

Anders as in vorige jare het pluimveepryse ná die Desember-vakansie boonop stewig gebly.

Astral sê voortgesette verbeterings in die doeltreffendheid van hoenderproduksie op plase het ook 'n bydrae gelewer.

In die somer het die maatskappy boonop geen verdere voëlgriepvoorvalle en verwante uitgawes gehad nie, wat sy prestasie in die tweede halfjaar van sy 2017-boekjaar geraak het.

Astral se halfjaarresultate sal na verwagting op 14 Mei bekend gemaak word.