Lawrence, ’n bekroonde boer, het ernstige inwendige beserings opgedoen toe hy Maandag 19 Julie implemente gekalibreer het. Die Lawrence-gesin sê hy is Saterdagaand 24 Julie oorlede. Sy dogter, Claire, was Saterdag op ’n vlug terug na Suid-Afrika van Kanada af, en moes die hartseer nuus met haar aankoms terug in die land verneem.

“Hy was ’n steunpilaar van die gemeenskap, ’n vriend en ’n vaderfiguur vir baie mense. Hy het sy lewe aan ander gewy en ons sal hom baie mis,” het die familie in ’n verklaring gesê.

Lawrence was ten tyde van sy dood vise-voorsitter van die GWK-direksie, ná hy vir langer as ’n dekade die voorsitter was en sedert die ontstaan van die maatskappy in 1994 in die direksie gedien het. “Ons is dankbaar vir sy wysheid en leiding en ons is bitter hartseer oor die verlies. Hy laat ’n geweldige groot leemte,” het die maatskappy op sy Facebook-blad gesê.

Lawrence was die eienaar van Idstone Farming, ’n uitgebreide besproeiingsboerdery op die oewer van die Vaal-, Riet- en Oranjerivier in die Noord-Kaap. Hy is voorheen bekroon as GWK se Kommersiële Produsent van die Jaar en Landbouskrywers SA se Noord-Kaapse Boer van die Jaar. Hy was veral bekend as aartappelkweker en was voorheen ook as finalis in Aartappels SA se Moerkweker van die Jaar-kompetisie aangewys.

Hy het meer as dertig jaar gelede saam met sy pa, Gerald, by Douglas begin boer. Sy pa, een van die land se laaste onafhanklike meulenaars, het destyds ’n lappie grond aangeskaf nadat hy sy meule in Kimberley verkoop het. Idstone Farming is genoem na Frank se oupa se familieplaas in Berkshire, Engeland.

Frank het die graad B.Sc. met landbou-ekonomie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal en daarna twee jaar lank by die departement van landbou in Pretoria gewerk en sy honneursgraad in landbou-ekonomie verwerf voordat hy in 1979 heeltyds gaan boer het. Hy word oorleef deur sy vrou Desiree, seun, Roscoe, en dogter, Claire.