Mnr. Willie Meyer, hoof van GWK-veilings, wat deel vorm van die landboumaatskappy GWK, sê ’n nuwe benadering is nodig om ’n kostedoeltreffende diens aan veeprodusente te lewer. “Die oplossing is GWK se Veewinkel-toep vir die regstreekse aanbied van virtuele veeveilings,” sê hy. “Dié toep bied nie net die gerief aan kopers en verkopers nie, maar ook ’n vermindering in koste ten opsigte van vervoer, tyd en gewigsverlies van die diere.”

Volgens Meyer het die leier-handelsmerk Wildswinkel ’n bewese veilingsrekord in die wildbedryf waarmee hy en sy span hulle kan vereenselwig. “Die gerief, geloofwaardigheid en deursigtigheid van die toep, tesame met die bykomende dienste wat deur GWK en Wildswinkel aangebied word, sal reusevoordele vir kopers en verkopers op veeveilings ontsluit.”

willie meyer,
Mnr. Willie Meyer, hoof van GWK-veilings. Foto: Verskaf

Mnr. Victor Matfield, uitvoerende hoof van Wildswinkel, sê dat dié onderneming geruime tyd al die uitbreiding na die veebedryf oorweeg. “Ons gebruik drie jaar al ’n aanlyn platform vir stilveilings (timed auctions). In hierdie tyd is die toep ontwikkel om gebruikersvriendelik te wees – iets wat soortgelyke platforms nog nie kon vervolmaak nie.”

Hy sê dat die toep twee soorte platforms bied. Die stilveiling stel produsente in staat om diere vanaf hul plase te verkoop sonder om ooit die diere na veilingsgeriewe te vervoer. ’n Koper kan dus die diere regstreeks koop, wat die middelman uitsny. Die tweede is ’n regstreekse veiling wat aanlyn aangebied word om ’n platform te skep waarvolgens kopers wat nié die veiling kan bywoon nie, steeds daaraan kan deelneem vanuit die gemak van hul huise. Daarvolgens kan aanlyn kopers teen aanwesiges by die veiling bie.

GWK se Veewinkel-toep het geen geografiese grense nie, en belangstellendes kan landwyd – en selfs van buite die land se grense – aan veilings deelneem deur op die toep te registreer. Dit is gratis om af te laai en is beskikbaar vir Apple- en Android-toestelle.