Me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, sê hoewel die MRK saamstem dat die inhoud van die plasings onaanvaarbaar en onwettig is, sê die MRK dit het nie die vermoë om die individue wat dit geplaas het op te spoor nie en die MRK het ook geen jurisdiksie oor sulke uitlatings nie.

“Die MRK se besluit om nie hierdie plasings te ondersoek nie is in regstreekse teenstelling met vorige sake wat hy al hanteer het,” sê sy. “Die MRK het voorheen die kapasiteit gehad om mense op te spoor en te beboet. Die MRK het as’t ware al baie sake teen haatspraak gelei. Hierdie sake is uiteindelik in die gelykheidshof afgehandel.”

Sy sê die sake kan ook as strafsake vervolg word en dat die DA weet van iemand  wat al tronk toe gestuur is omdat haar oortreding ’n polisiebeampte se waardigheid aangetas het. “Dit wil voorkom of rasgedrewe plasings wat Suid-Afrikaners aanmoedig om gesinne te vermoor, vir die MRK nie as die aantasting van waardigheid tel nie.

“Hierdie uitlatings word dikwels net ná ’n plaasaanval of -moord gemaak. Tog sien die MRK dit nie as iets wat hy hoef te hanteer nie. Die MRK het geen begeerte om die oorlewendes van verkragting en marteling by te staan nie. Dit, terwyl sommige Suid-Afrikaners die verkragters en moordenaars aanmoedig.”

Kohler Barnard sê die MRK se verdere verweer is dat die uitlatings gemaak word met verwysing na “miljoene mense op grond van hul ras”. “Tog het die MRK al in ’n vorige geval, soos toe ’n man op vakansie was en rassistiese taalgebruik gebruik het, opgetree. Hy is aangekla en beboet daarvoor. Daar is nog sulke gevalle.”

Sy sê die MRK het erken dat hy volgens sy eie diskresie kan besluit of hy ’n klag of persoon in die gelykheidshof wil verteenwoordig. “Die MRK het verkies om nie die families van vermoorde boere en plaaswerkers te verteenwoordig nie.”

Die DA hou vol dat die MRK die regte gesag is om voorvalle van haatspraak te ondersoek en dat sy besluit om dit nie te doen nie, net so sleg vir die oorlewing van landelike gemeenskappe is soos die mense wat ander aanmoedig om boere en plaaswerkers te vermoor.