Groenteboere het deurgeloop in die kwaai haelstorms wat op Maandag 9 Oktober 2017 oor onder meer dele van Gauteng voorgekom het. Opnames van die skade is nog nie afgehandel nie en die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Mnr. Deon van Zyl, besturende direkteur van RSA Markagente, sê in Gauteng het veral groentegewasse soos blomkool, broccoli, slaai, beet, spinasie, wortels en kool skade opgedoen. “Daar sal definitief ’n effek op die lewering van dié produkte in die volgende twee tot drie maande wees, wat ’n opwaartse neiging in die prys sal veroorsaak.”

Hy meen die kans is goed dat groentepryse in die volgende maand tot drie maande sal styg. “Intussen gaan boere doen wat hulle gewoonlik doen: Red wat te redde is.” Boere wat groot skade het, sal moet oorplant.

Sitrus en neute loop ook deur

’n Hael-en-windstorm in die omgewing van Mbombela (Nelspruit) het op Sondagaand 8 Oktober 2017 kwaai skade aan sommige boere se plase aangerig. Mnr. Barry Christie van Subtrop, die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, sê hoewel nie baie boere groot skade aangemeld het nie, was daar wel verliese in die omgewing van Karino oos van Nelspruit. Die Crocodile Valley-sitruslandgoed daar naby het glo ook skade gely.

Mnr. Lanzo Plath, ’n makadamiaboer naby Witrivier, se boorde het erg onder hael en wind deurgeloop. Op dele van sy plaas is tot die helfte van die jong makadamianeutjies van sy bome afgeslaan. Daarna het erge wind Maandag verwoesting gesaai het in die boorde wat die hael vrygespring het. Van sy 35 jaar oue makadamiabome is 18 omgewaai, terwyl hy sowat 15 van sy 18 jaar oue bome verloor het.

Honderde jong makadamianeute is van Mnr. Lanzo Plath se bome afgeslaan tydens 'n haelstorm in Mpumalanga se laeveld Sondag, 8 Oktober 2017.