Die buitengewone hael wat wyd voorgekom het, is veroorsaak deur vog wat vanaf die Indiese Oseaan oor Mosambiek en Zimbabwe beweeg en in kontak met die koue toestande gekom het, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.

“Die hael wat in die winter oor die somerreënstreek voorkom, is gewoonlik nie so hard soos wanneer weerstelsels in die somer oor die binneland van Afrika inbeweeg en hael veroorsaak nie,” sê Van den Berg. “Dis gewoonlik nie baie groot korrels nie. Die korrels wip ook nie soos in die somer nie.”

Mnr. Martin Jordaan, boer van die plaas Drie Doorns net buite Bothaville in die Vrystaat, sê die hael en die 18 mm reën wat Maandag geval het terwyl hulle besig was om te stroop, is uitsonderlik. “Die gebeur baie min dat dit in Julie by ons reën of hael. My skoonpa (mnr. Ben Malan) sê in die 52 jaar dat hy boer, het hy selde in Julie op die plaas reën gesien.”

Strooptyd uitgestel

Volgens Jordaan is ligte reën voorspel, “maar die kans was skraal omdat ons nie gereeld reën in Julie kry nie. Binne ’n uur was die weer bokant ons. Ons was verstom toe die groot, yskoue haelkorrels op ons neerplof.

“Met ’n nat stroper, trekkers en ander voertuie is ons toe maar al die pad terug na die plaasopstal, tog dankbaar vir die verstommende, yskoue seëning van bo, vroeg in die maand van Julie,” sê Jordaan.

Donker wolke hang oor die plaas Drie Doorns buite Bothaville waar mielies gestroop is. Hael en 18mm reën het geval. Foto: Martin Jordaan

Van den Berg sê die kans op nog reën in die binneland lyk tot einde volgende week belowend.

Die kans op die ontwikkeling van ’n El Niño-weerstelsel het die afgelope paar weke van ’n 50%-kans tot ’n 60%-kans versterk. Dié buitengewone reën en hael kan tekens wees dat die kans op ’n El Niño-stelsel toeneem. Volgens Van den Berg word ’n El Niño-stelsel in die somerreënstreek gekenmerk deur reën vroeg in die somer, met die moontlikheid van ’n midsomerdroogte.

Strooptyd vir mielies kan na gelang van die hoeveelheid reën wat voorkom of reeds geval het, met tot twee weke vertraag word, sê Van den Berg.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.