“Wat ons wel hieruit geleer het, is dat ons nie ’n nuwe boord sonder nette sal vestig nie. Daar waar ons nette opgerig het, het die hael nie deurgedring nie en 100% skade is voorkom waar daar wel vrugte aan dié bome was. Die meeste van ons nette is egter oor jong bome opgerig.

“Hierdie is ook ’n goeie proefloop om te sien hoe doeltreffend die drapeer-nette vaar. Die eerste evaluasie is dat die vrugte wat teen die nette is, skade het, maar dat die vrugte dieper in die boom goed beskerm is,” sê Kritzinger.

Van 10% tot 100%

Die skade wissel van 10% tot 100% oor verskillende areas. Kritzinger sê die streek is ongeveer 50% klaar geoes, maar daar is steeds hoëwaardekultivars, soos Forelle-pere, en Golden Delicious- en Granny Smith-appels aan die bome.

Benewens die 40%-waterbeperking wat steeds in die streek geld, het hael groot skade in die vorige seisoen aangerig en vroeër die seisoen het ryp ook op sommige plekke skade aangerig. Kritzinger meen ’n goeie bemarker sal vir hulle van onskatbare waarde wees om die tydsberekening van die bemarking van hierdie vrugte reg te kry. “Ons sal beslis kyk om die vrugte wat hael gekry het, later in die seisoen te bemark wanneer die aanbod laer is. Sapvrugte se pryse is darem ook effens beter. Alles is dus nie verlore nie.”

Koo en Montagu loop ook deur

’n Haelbui het op dieselfde aand ook oor Montagu en die Koo-vallei in die Wes-Kaap getrek en bykans alle Golden Delicious-appels tot ’n sap-graad geslaan. Volgens mnr. Daniel Rossouw, voorsitter van die Koo-boerevereniging, is groot skade reg oor albei streke aangerig. “Ons het nog nie die Forelle-pere gepluk om skade te bepaal nie, maar daar sal beslis skade wees. Op die oog af lyk dit asof ons geen Golden Delicious-appels sal uitvoer nie.”

Hy sê daar is nog nêrens in die Koo-vallei nette oor vrugteboorde aangebring nie, maar dit sal ’n al groter oorweging raak ná hierdie haelbui.

“Ons sukkel eerder met ryp hier by ons en die droogte het ons steeds stewig beet.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.