Die distrikte Ladybrand, Excelsior, Senekal en Ficksburg is onder meer geraak.

Haelbuie het in die oggend en in die middag by Ladybrand voorgekom en sowat 45 mm reën is aangeteken. Mnr. Christo Beukman van die plaas Roodebloem het haelskade aan sy mielie- en sonneblomaanplantings. Sterk rukwinde het die dakke van twee van sy pakhuise afgewaai. Hy sê die storm het noord van Ladybrand in die rigting van Clocolan en Modderpoort gewoed.

Ander boere is sy omgewing het haelskade aan hul soja-aanplantings ondervind.

Mnr. Gert Jacobs van die plaas Cyferfontein by Senekal het nie hael aan die suidekant van die dorp ondervind soos op Senekal nie. Hy het nie berigte van skade aan die noordekant van die dorp ontvang nie en sowat 2 mm reën is op Senekal aangeteken.

haelstorm
Die haelstorm by Senekal. Foto: Tania Botha
haelstorm
Die hael by Senekal. Foto: Tania Botha

Mnr. Friedel von Maltitz van die plaas Saxonpark by Hammonia, tussen Ficksburg en Clocolan, sê Ficksburg het kwaai deurgeloop onder die hael wat soos ’n wit kombers op plekke gelê het.

Ligte reën het in strepe oor die gebied voorgekom, maar swaar buie het in die rigting van Clocolan voorgekom.

Een van die graanboere aan weerskante van Ficksburg, mnr. Ig Wille, het die hael vrygespring. Een van sy voormanne het ’n kwaai reënbui op ’n plaas anderkant Ficksburg by Meulspruit as ’n wolkbreuk beskryf wat strome water ná die tyd in landerye laat vloei het.