Die boete volg op ’n ondersoek ingevolge die Wet op Finansiële Markte, Wet 19 van 2012 (FMA), deur die Suid-Afrikaanse Finansiële Diensteraad (FSB) se direktoraat vir die markmisbruik.

Die maatskappy het op 1 Julie 2015 sy voorneme om tot 300 000 ton nie-GM witmielies van Mexiko in te voer, aan die mark gekommunikeer.

Luidens ’n verklaring van die FSB het die groep se kommunikasie aan klante aangedui dat die eerste vrag van 50 000 ton wit mielies reeds bestel is. Verder is aangedui dat nog vyf vragte mielies van September tot Desember 2015 ingevoer sou word, sonder dat enige faktore wat daartoe kan lei dat 300 000 ton mielies nie ingevoer word nie, gekommunikeer is.

Die eerste besendingDie aanbiedinge aan klante was vir Augustus, September en Oktober 2015. In sekere gevalle het die maatskappy aan klante aangedui dat die mielies wat gedurende ’n sekere maand sou aankom, reeds uitverkoop was, hoewel bestellings vir al die maande in daardie stadium wel uit die eerste besending van 50 000 ton gelewer sou word. Die eerste besending mielies was in daardie stadium nog nie uitverkoop nie.

“Die maatskappy het toegegee dat ’n redelike persoon in sy posisie moes geweet het dat die spesifieke kommunikasie moontlik misleidend en/of bedrieglik was, en, ten opsigte van die inligting hier weergegee, het die respondent erken dat artikel 81 (1) van die FMA oortree is,” sê die FSB.

Al die belanghebbendes het ooreengekom dat Cargill RSA ’n boete van R362 000 moet betaal, wat ’n bydra deur die maatskappy vir die koste van die ondersoek insluit. Die direktoraat glo dat die boete regverdig is, veral omdat die maatskappy sy volle samewerking met die ondersoek gegee het en omdat dit die eerste oortreding deur die maatskappy is.

Intussen sê die FSB luidens nog ’n verklaring daar is ander ondersoeke aan die gang in onder meer die witmielie- en koringbedryf. Klik hier om die lys van ondersoeke te sien.

Boetes is te klein

Graan SA verwelkom die stappe deur die FSB, sê dr. Dirk Strydom, bestuurder van ekonomie en bemarking by die organisasie. “Dit is gunstig dat owerhede na hierdie kwessies kyk en seker maak dat belanghebbendes binne die handelsreëls optree. Dit is belangrik vir die vryemarkstelsel om doeltreffend te werk ”

Hoewel boetes volgens die riglyne van die wet plaasvind, sal die organisasie wel strenger vervolging en groter boetes vir oortreders wil sien. “Die boetes lyk baie klein vergeleke met die moontlike impak wat sulke transaksies op die mark- en prysbewegings kan hê,” sê Strydom.