Purchase wat oor die rol van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gepraat het, het – met verwysing na pres. Donald Trump van Amerika se handelsoorlog met die res van die wêreld – gesê proteksionisme werk gewoonlik teen ’n land. “Dit is nadelig vir die ekonomie en belemmer groei.”

Hy sê Trump wil nou verskillende handelsreëls vir verskillende lande neerlê. Die grootste probleem is dat niemand presies weet waarheen hy mik of wat hy eintlik wil bereik nie. “Daar is ook baie politiek ter sprake omdat hy bedreig voel deur lande soos China en Indië.”

Minder ingewikkeld

Hy meen wêreldhandel moet minder ingewikkeld gemaak word. “Ons het ’n handelsomgewing nodig wat deur algemene reëls gerig word. Dit behoort die WHO se taak te wees om dit neer te lê, maar die organisasie word verswak omdat daar nie eensgesindheid onder sy eie lede oor sy rol is nie.”

Al hoe meer lande wend hulle tot bilaterale handelsooreenkomste, wat handel bemoeilik. Trump is ook ten gunste van sulke ooreenkomste, terwyl daar ook breër handelsooreenkomste internasional nodig is.

Oor handel in Afrika, sê Purchase Suid-Afrika is ten gunste van ’n kontinentale vryhandelsooreenkoms, maar dit sal moeilik ingestel word. “Net 15% van die handel op die vasteland is tussen Afrikalande. Daarom kry jy die belaglike situasie dat tafeldruiwe van Suid-Afrika na Europa uitgevoer word en van daar weer na Senegal uitgevoer word.”

Die Suid-Afrikaanse Regering beywer hom vir handel met ander lande in Afrika en sedert 2009 het die Suid-Afrikaanse uitvoer na ander Afrilande verdriedubbel. Daar is egter ’n wanbalans en Suid-Afrika moet meer vanuit ander Afrikalande invoer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe – teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.