Hy het gereageer op ’n mededeling van mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van Landbou, Bosbou en Visserye, aan Landbouweekblad dat China gevra het Suid-Afrika moet 100 ton sojabone lewer sodat dit daar deur verwerkers getoets kan word.

Die department het onlangs verskeie protokolle met die Chinese regering onderteken wat tot verhoogde uitvoer van landbouprodukte na dié land sal lei. Amerika het altyd sowat 400 miljoen ton sojabone aan China gelewer.

OORDRAGVOORRAAD

Louw sê Suid-Afrika sit met meer as 600 000 ton oordragvoorraad wat uitgevoer kan word. “Dalk kan ons in ’n klein deel van die Chinese tekort voorsien. Dit lyk in elk geval nie of Suid-Amerika genoeg sal hê om die gaping te vul nie. Met dié dat ons nie al ons eie produk kan verwerk nie omdat daar steeds oliekoek ingevoer word, is daar dalk nou net die gaping om die Chinese mark te kan betree.”

Hy sê daar was verlede week ’n bedryfsvergadering met al die belanghebbendes in die sojaboonbedryf om te kyk wat die kwessies is wat maak dat sommige verbruikers steeds oliekoek invoer en nie plaaslike produk benut nie. “Hopelik kan ons dan nader aan mekaar hieroor beweeg”.

Oor die kommer van ’n produsent of Suid-Afrika te veel sojabone produseer en dit die rede vir lae pryse is, sê Louw hoewel daar teen die einde van die bemarkingseisoen sowat 650 000 ton se geskatte oordragvoorraad gaan wees, is Suid-Afrika steeds in ’n tegniese tekortsituasie.

“Daar word steeds oliekoek ingevoer. Indien al die ingevoerde oliekoek vervang word, kan daar ten minste 1,7 miljoen ton sojabone gepars word vir olie en oliekoek. “Die volvet- sojabone en menslike verbruik is ’n verdere sowat 200 000 ton per jaar.”

VERWERKING

Die invoer van oliekoek sal vervang moet word om die optimale verwerking van sojabone te laat plaasvind. Volgehoue produksie van sojabone is belangrik om te verseker dat verbruikers van oliekoek nie tekorte sal ervaar indien die plaaslike produksie om welke rede ook al te laag is nie.

Dit sal die vervanging van ingevoerde oliekoek met plaaslike geproduseerde oliekoek baie makliker maak. Louw sê die Suid Afrikaanse totale voerverbruik groei ook met 7% per jaar benewens die uitvoergeleenthede na die buiteland.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.