Die bepalings van die skikking bied aan sakelui die geleentheid om betrokke te wees by die soeke na oplossings vir die plaaslike owerheid se geldprobleme.

Die skikking keer Eskom om, mits ’n haalbare plan binne die knap tydsraamwerk opgestel kan word, die krag na die munisipaliteit Maluti-a-Phofung af te sny. Die kragverskaffer dreig reeds lank om dit te doen weens die miljarde rande wat die plaaslike owerheid hom skuld.

’n Volbank regters van die hooggeregshof in Bloemfontein het die skikking op 22 Oktober ’n bevel van die hof gemaak.

Dit volg op die Harrismith-sakeforum en verskeie ander sake-ondernemings, insluitend die voedselmaatskappy Nestlé en die landboumaatskappy Afgri, se hooggeregshofaansoek vroeër vanjaar om Eskom te keer om die krag af te sny en provinsiale en nasionale regeringsvlakke te dwing om by die munisipaliteit in te gryp.

Vanweë die skikking, wat volgens regslui as ’n broodnodige handleiding kan dien om soortgelyke probleme in ander munisipaliteite te pak, is dié aansoek onbepaald uitgestel.

Luidens die skikking erken die munisipaliteit en die administrateur, wat kragtens die Grondwet aangestel is om die munisipaliteit se sake reg te ruk, dat die munisipaliteit weens sy geldsakekrisis nie in staat is om sy finansiële verpligtinge na te kom en basiese dienste te lewer nie.

Die twee respondente erken ook dat die toestand van die munisipaliteit aan al die vereistes, kragtens artikel 139(5) van die Grondwet en artikel 139 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA), voldoen om ’n ingryping deur die provinsiale regering verpligtend te maak.

Die skikking bepaal dat die respondente moet probeer om die situasie binne die grondwetlike vereistes van samewerkende regering op te los.

Raadplegende komitee

Die partye het ooreengekom dat ’n raadplegende komitee met 17 lede gestig word, wat verteenwoordigers van verskeie regeringsvlakke insluit, asook vyf verteenwoordigers van die applikante.

Die komitee vergader die eerste keer op 15 November en daarna tweeweekliks.

Die komitee moet dr. Zweli Mkhize, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, en Eskom deurlopend van vordering op hoogte hou en teen 22 Desember ’n voorgestelde herstelplan aan Mkhize voorlê.

Mkhize en me. Elzabe Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies, moet dan binne 15 dae die komitee inlig of die departement die plan goedkeur en watter stappe gedoen gaan word om dit in werking te stel.

Indien die applikante meen dat die proses nie gepaste veranderinge rakende regering, geldsake en tegniese kwessies in die munisipaliteit teweeg bring nie, kan hulle kragtens die wet stappe doen om die nasionale Regering te laat ingryp.

Eskom mag ook, as die proses soos voorgeskryf in die skikking, onsuksesvol is, die hooggeregshof nader vir ’n finale beregting van die sake-ondernemings se aansoek.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het onlangs ’n aansoek deur Afgri afgekeur om regstreeks van Eskom, en nie deur die munisipaliteit nie, vir sy meule in Harrismith krag te kry. Afgri beoog om die besluit op hersiening te neem.