Só het mnr. André Cloete, self 'n produk van grondhervorming en vennootskappe met kommersiële boere en ook voormalige beste Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou van Landbouskrywers SA, op 'n paneelbespreking oor ontwikkeling en transformasie deur vennootskappe op die Agri SA-jaarkongres gesê.

“Ek pleit nie vir 'n kopskuif nie, maar 'n hartskuif, sodat ons vóór die Regering (met transformasie) kan wees.”

Cloete, wat 'n suksesvolle gemengde boerdery met onder meer appels naby Greyton bedryf, het gevra hoekom dit nodig is om ná 20 jaar van demokrasie steeds oor transformasie te praat, en of die gesprekke die volgende tien jaar dieselfde gaan wees.

Hoewel 'n mens die Regering vir sy foute kan kritiseer, gaan hy nie aanhoudend die skuld op die Regering pak nie. “Ek het my vinger getrek en na 'n kommersiële bank gegaan, skuld gemaak, en gaan boer. As ek dit nie gedoen het nie, was ek lankal uit die bedryf.”

Cloete het ook gesê 'n mens kan die verlede nie wegredeneer nie, soos dat daar mense is wat swak onderwys gehad het, wat beteken ontwikkeling is binne vennootskappe nodig.

In die kongressaal was daar volgens hom 'n magdom van kennis opgesluit, in alle vertakkings van die landbou. Hy het by boere gepleit om die Regering se versoek om in vennootskappe met opkomende boere te gaan, as 'n suiwer uitnodiging te aanvaar.

“Maak die verskil waar jy is. Daar gáán pap op die grond val, ons weet dit, maar ons moet aanhou en aanhou. Ek glo die sluise van die Regering sal dan oopmaak en hulle sal sê hulle wil in wenresepte belê.”

Cloete het gesê vertroue en uithouvermoë is belangrik vir suksesvolle venootskappe.

Hy het gesê banke, sakekamers en regeringsinstellings soos die Nywerheidsontwikkelingskoöperasie moet ook betrokke wees.

Cloete, wat die voorsitter van die Caledon-Noord-boerevereniging is, het gesê hy is ook lid van die African Farmers’Association (Afasa). “Wanneer laas het Agri SA op nasionale vlak met Afasa om die tafel gesit? Ons het dieselfde doelwitte. Ons gaan na die Regering om dieselfde beleid te verander of beïnvloed, of oor dieselfde kwessies te kla.

“Ons het mos verloor nog voor ons begin het. Ons moet saamwerk en saam na die Regering gaan sodat hulle respek vir ons kan hê.”