AfriForum se Hartswater-buurtwag het net voor 23:00 gisteraand ’n verdagte voertuig op die pad opgemerk en dit aan die nasionale beheerkamer gerapporteer. Ná verskeie kontroles met behulp van die SAPD, is vasgestel die nommerplate op die voertuig is vervals. Die plaaslike polisie is gekontak vir bystand, waarna die voertuig afgetrek en vier verdagtes in hegtenis geneem is.

“Aangesien Hartswater op die grens tussen die Noord-Kaap en Noordwes geleë is, het die Vryburg-buurtwag en sy protospan ook op die noodroep gereageer en hul hommeltuig saamgeneem om met die soektog te help,” sê mnr. Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“Doeltreffende kommunikasie tussen die span wat die hommeltuig behartig het en ander spanne op die grond het tot die sukses van die soektog bygedra. Dit is ’n fantastiese, dog tragiese voorbeeld van hoe gemeenskappe mekaar kan ondersteun in tye van nood en help om mekaar veilig te hou.”

Mnr. Thomas van Dalen, AfriForum se waarnemende hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, sê hoewel buurtwaglede in ’n mate gelukkig was om die verdagte voertuig te identifiseer, moet ’n mens nie die belangrikheid van al die ander gemeenskapsveiligheidstrukture en die polisie onderskat nie. “Danksy spanwerk kon die geskokte en getraumatiseerde familielede binne 48 uur ná die misdade gepleeg is, antwoorde kry.”

AfriForum doen weer eens ’n beroep op gemeenskappe reg oor Suid-Afrika om hulself in buurtwagte te organiseer.