Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê hulle probeer om ’n goeie werksverhouding met die Noord-Kaapse departement van landbou en landelike ontwikkeling te behou, maar die situasie raak nou “ongelooflik frustrerend.”

“Die Wes-Kaapse departement van landbou stel steeds finansiële hulp aan boere beskikbaar, maar nie die Noord-Kaapse departement nie. Dit is vir ons baie moeilik om finansiële hulp op grondvlak by die boere te kry.”

Een van die struikelblokke is die neiging van distriksmunisipaliteite, wat almal rampbestuurbeamptes het, om nie geld vir rampbestuur in hul begrotings toe te wys nie.

As ’n distriksmunisipaliteit tot rampgebied verklaar word, maar die ramp is van so ’n aard dat die distirksmunisipaliteit dit nie kan hanteer nie, moet by die provinsiale ramphulpsentrum om geldelike hulp aangeklop word. As dáár ook geen hulp te vind is nie, word die kwessie na die nasionale ramphulpsentrum verwys. In so ’n geval sal die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in ’n raadgewende hoedanigheid optree.

Lusern op plaas

Die Noord-Kaapse departement van landbou en landelike ontwikkeling bied tans droogtehulp in die vorm van lusern wat op sy plaas by Upington verbou word. Dié voer moet dan na die onderskeie distrikte, onder meer Spitskop en Douglas, vervoer word.

“Ons is afhanklik van skenkings en eie geld om die lusern te vervoer. Ons is dankbaar vir die hulp wat die departement ons bied, maar die droogte se impak brei uit.”

Jansen sê dit is moontlik dat die hele provinsie tot rampgebied verklaar kan word. “Die grasveld het so verswak dat dit nie meer as voer gebruik kan word nie. Die bossieveld gaan baat vind by winterreën, maar groei gaan beperk wees. Die veranderinge in die weerpatrone is kommerwekkend en gaan ’n groot impak op die provinsie se boerderye hê.”

Die begin van die nuwe begrotingsiklus vir die 2019-’20-boekjaar wat later vanjaar aanbreek, gaan volgens hom nie noodwendig die nodige verligting bring nie. “Verlede jaar se tussentydse begroting het ruimte gehad vir die voorsiening van water. Ons wil egter die geld op grondvlak by die boere uitkry.”

Hy meen die begroting sal onder druk bly as gevolg van finansiële krisisse by onder meer Eskom en die SAL. As gevolg hiervan is hy bekommerd dat daar nie genoeg geld vir droogtehulp sal wees nie.

“As die beskikbare geld en toegang daartoe beter bestuur word, sal dit klaar help. Die rompslomp wat met ramphulp gepaardgaan, moet ook uitgeskakel word. Dit gaan niemand geld kos nie as die ramphulp beter bestuur word nie.”

Slegs 96 000 skape oor

Me. Hester Obermeyer, Gift of the Givers se koördineerder vir veevoer in die Wes- en Oos-Kaap en woordvoerder van die Sutherland-droogtefonds, sê van die sowat 400 000 skape wat voorheen in Sutherland was, is daar nou slegs 96 000 oor. Hierdie getal kan verder afneem aangesien voorspel word dat die droogte nog twee jaar gaan duur.

Sy sê die impak van die droogte in die distrik is skrikwekkend en stuur op ’n ramp af. Benewens die impak wat dit op die landboubedryf gaan hê, moet die sosiaal-ekonomiese impak van die droogte nie uit die oog verloor word nie.

“Daar is ’n klomp werksgeleenthede op plase wat nou tot niet gaan. Al die plaaswerkers wat hul werk kwyt gaan wees, gaan na die dorp gedryf word. Hierdie werksgeleenthede sal waarskynlik nooit herwin word nie.”

Sy meen deur middel van samewerking tussen organisasies soos Gift of the Givers en Agri SA sal ’n beter poging aangewend kan word om boere in die distrik en die res van die provinsie te help.

Skenkings is volgens haar noodsaaklik. “Ons pleit by die res van Suid-Afrika om ons te help met enige beskikbare voer of geld. Die boere kan nie meer bekostig om voer aan te koop nie.”

Sy sê sommige boere se geld is so min dat hulle nie meer kan bekostig om dorp toe te ry en voer te gaan haal nie. Daarom moedig sy ook brandstofmaatskappye aan om te help waar hulle kan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.