Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die departement van landbou, bosbou en visserye, sê hoewel motte van Junie tot Augustus op verskeie plekke in die Wes-Kaap gewaar is, was dit die eerste keer wat dit tot die larwestadium gevorder het.

“Dit lyk of daar nou ’n toename van motte en larwes in mielieproduserende gebiede is, nadat min voorvalle vroeër die seisoen aangemeld is. Dit is te wagte, want die motte migreer gedurende die herfs. Boere moet in die volgende maand of wat hul verkenning verhoog, veral in die Wes-Kaap op plekke waar koring en mielies verbou word. As die wurms eers groter word, bied hulle weerstand teen plaagdoders.”

Venter sê daar is nog nie natuurlike predatore vir die wurms in Suid-Afrika aangeteken nie. “Met so ’n groot proteïenbron sal predatore ongetwyfeld aanpas om motte en die wurms te vreet. Dit kan verwag word dat voëls, spinnekoppe en vlermuise mettertyd hiertoe sal bydra. Daar is ook natuurlike vyande van die plaag waar dit in Amerika voorkom.”

Op ’n vraag of herlewingspraktyke kan help om die plaag te bekamp, sê Venter as plante lewenskragtig en gesond is, kan dit die impak van skade verminder. “Dit sal veral opgemerk kan word as jong mielieplante aangeval word. Hulle kan herstel en ’n normale oes lewer as die wurms bekamp word. As die plante in ’n later groeifase aangeval word, herstel dit moeiliker en dan kan daar meer skade aan mieliekoppe wees.”

Venter sê kleinboere is meer uitgelewer aan skade en in buurlande is klein- en bestaansboere ook meer uitgelewer. Herfskommandowurms kom veral in tropiese en subtropiese gebiede voor en skade is groter in warmer dele van ’n land.

Kenners meen die kans is skraal dat die wurms die winter in die Oos- en Wes-Kaap sal oorleef. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.