Só sê mnr. Gawie van Heerden, uitvoerende hoof van die Merino-maatskappy Konsortium, oor mnr. Vetties Esterhuizen (75) wat onlangs aan kanker oorlede is.

Esterhuizen, eienaar van een van die oudste Merino-stoeterye in die land, is daarvoor bekend dat hy vroeg reeds ’n gladder Merino begin teel het. Hy was in 2001 saam met Van Heerden en wyle mnr. Phil van der Merwe stigterslede van Konsortium. Van der Merwe is in 2014 ná ’n lang stryd teen kanker oorlede. Esterhuizen was eienaar van die Merinostoetery Victoria, met stoeterynommer 175.

Van Heerden se jonger broer, Willouw, is in 2008 oorlede. Hy het saam met Gawie geboer en was in die beginjare ’n Konsortium-projekbestuurder.

Van Heerden sê as klein seuntjie op Victoria-Wes se jaarlikse skou het hy al gesien Esterhuizen se skape lyk altyd anders as die ander s’n op die Merino-skou. “As ek aan Oom Vetties dink, dink ek eerste, tweede, derde Merino.” 

’n Skaap- en veldboer

Van Heerden verwys onder meer na Esterhuizen se ram Johnnie Walker, wat Van der Merwe destyds op ’n veiling teen slagprys gekoop het omdat hy die enigste was wat sy potensiaal raakgesien het. Die ram het so ’n groot impak op die Victoria-stoetery gehad het dat dit die Esterhuizens se boerdery “weer op die klip gesit het”.

Van Heerden sê Esterhuizen was nog altyd ’n goeie Merinoboer na wie enigeen kon opsien om te leer hoe jy beter na jou skape kan kyk. Sedert die vroeë 1990’s stap hulle al die pad van boerdery en teling saam. “Ons koester die goeie herinneringe,” sê Van Heerden.

Esterhuizen se seun Hannes (Popo), wat nou in die proses is om die Victoria-stoetery oor te neem, sê sy pa se oom Ignatius Esterhuizen het die stoetery begin voordat sy pa dit oorgeneem het. Hy het meer as 50 jaar ramme vir die bedryf geteel.

Met die hulp van Van der Merwe het hy vroeg al gladder Merino’s begin teel.

“Daardie tyd het hulle nog ramme in Bloemfontein (vir die skou) ingeskryf. Een jaar het hulle nie een ram op die skou verkoop nie. Toe hulle terug op die plaas kom, het hy en die werker ewe hard in die bakkie gesit en huil. Maar hy het vasgebyt met die gladdelyf-teling. Hy was een van die beste skaapboere in die omgewing. Hy het nie net met vee geboer nie, maar met veld ook.”

Wyle Esterhuizen, ’n wewenaar, word ook oorleef deur twee ander seuns, mnre. Driesie en Chris Esterhuizen, en twee kleinkinders, Hannes se seuns, Jacques en Charl, wat nog op skool is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.