Kuyasa Mining en KiPower sou aanvanklik nie meer me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, en haar departement steun in ’n hofgeding om haar omgewingstoestemming vir dié kragsentrales te verdedig nie.

Die Sentrum vir Omgewingsreg (CER) vra namens die organisasie GroundWork dat die Hooggeregshof die Departement van Omgewingsake se toestemming vir die kragsentrales ter syde stel. Dit volg ná ’n hofuitspraak in Maart dat die minister die beoogde Thabametsi-kragsentrale by Lephalale se impak op klimaatsverandering moes oorweeg het voor toestemming daarvoor verleen is.

GroundWork sê benewens klimaatsverandering kan die twee beoogde kragsentrales by Delmas ook lei tot grootskaalse besoedeling van die Wilgerivier.

Dié rivier, wat tot nou toe taamlik skoon was, help om besoedeling in die Olifantsrivier te verwater tot op ’n vlak waar laasgenoemde se water nog veilig is vir besproeiingsboerdery, veral in die Loskop-besproeiingskema by Groblersdal.

Die Departement van Water en Sanitasie het reeds ’n watergebruikslisiensie aan KiPower uitgereik.

Ontoereikend

Dr. Steven Campbell, ’n Amerikaanse hidroloog, waarsku in ’n verslag wat hy vir GroundWork se saak teen Molewa en haar departement saamgestel het dat KiPower se voorstelle om besoedeling te voorkom, heeltemal ontoereikend is en dat oppervlak- én grondwater waarskynlik besoedel sal word.

Voorts hou die beoogde kragsentrales ook omgewingsrisiko’s vir Mosambiek in, want die Olifantsrivier voed ook die Massingirdam in dié land.

LANG PROSES

Me. Nicole Löser, ’n prokureur van CER se besoedeling-en-klimaatsveranderingsafdeling, sê die organisasie het by die Watertribunaal appèl aangeteken teen die waterlisensie wat aan KiPower toegestaan is.

Hulle wag nou vir die Departement van Omgewingsake om dokumente ter verdediging van sy saak by die Hooggeregshof in te dien. “Daar sal nog baie dokumente van albei kante af ingedien moet word voor die hof ’n besluit in hierdie verband kan neem,” sê sy.

Intussen is daar nog geen duidelikheid aan wie Kuyasa en KiPower elektrisiteit wil voorsien met die twee 600 MW-steenkoolkragsentrales wat hulle beoog nie.

Die Minister van Energie het nog geen tenders van private verskaffers aangevra nie. “Ek verstaan nie hoekom die twee kragsentrales se prokureurs nou weer hul gewig agter die saak wil ingooi nie. Dalk weet hulle iets wat ons nog nie weet nie,” sê Löser.