Sonder alternatiewe energie sal Suid-Afrika nie sy ooreenkomste met die ontwikkelde wêreld kan nakom wat koolstofteikens betref nie – en die regering besef dit, meen die energiekonsultant mnr. Henning Holm.

Aan die ander kant kan die ekonomie dit eenvoudig nie meer bekostig dat ’n sentrale, regeringsgeoriënteerde monopolie met ou tegnologieë sukkel om die mas op te kom nie. Daarom sien ’n mens ál meer toegewings van die staat se kant af wat regulasies betref.

Metropolitaanse munisipaliteite en groot maatskappy mag nou hul eie krag opwek, en die regering raak al hoe meer ontspanne oor byvoorbeeld groot boerderye wat hul eie krag opwek. Daarom is daar deesdae al hoe meer sogenoemde prosumers wat gelyktydig energie opwek en gebruik.

’n Mens sien dit veral in die landbou by boerderye en verwerkingsaanlegte wat ’n deurlopende bron van afvalmateriaal het, soos groenteboere, brouerye en makadamiaverwerkers, sê Holm.

Daarom meen hy daar is groot potensiaal vir die energiesektor, spesifiek in die wind-, fotovoltaïese, sontermiese en selfs biomassa- of biogasbedryf. Die voordele wat die vooruitgang in alternatiewe-energietegnologie meebring, maak dat dit nou nie eintlik meer moontlik is om dié manier van kragopwekking terug te hou nie, sê hy.

Belegging in die samelewing

Wêreldwye inperkings en die ekonomiese gevolge daarvan ten spyt was daar die afgelope jaar steeds heelwat kapitaal beskikbaar om beleggings in energie-infrastruktuur te maak. Tegnologie het selfs in hierdie tyd groot vooruitgang getoon. Pryse het gedaal, terwyl gehalte en doeltreffendheid verbeter het, sê Holm.

“Sonpanele lewer nou dubbel soveel energie as ses jaar gelede se panele van dieselfde oppervlakte. Hierdie fotovoltaïese panele skakel nou al 20% van die son se energie om, en die doeltreffendheid van son- of termiese stelsels staan op 60%.”

Die wisselkoers werk tans egter teen Suid-Afrika se hernubare energiebedryf, want die tegnologie word steeds in ’n groot mate ingevoer. Die mark is steeds te klein vir sinvolle plaaslike produksie.

Holm sê die energiesektor se grootste winsgewendheid lê egter nie in vervaardiging nie, maar in die ontwerp, bou en onderhoud van energiestelsels. Dít is waar die meeste werkgeleenthede geskep word.

“Werkskepping is een van die grootste voordele van hernubare energie. Dit skep omtrent 40 keer soveel werkgeleenthede as konvensionele energieë. Afrika kan dit beslis bekostig. Trouens, Afrika kan nie bekostig om nié die sprong na die hernubare energiesektor te maak nie.”

Dit moet egter saam met die res van die wêreld gedoen word. Dit is een van die redes hoekom Holm gereeld tyd in Europa deurbring. Dit gee hom ’n ander perspektief op sy tuisvasteland, want Europa sien Afrika as ’n plek met reusepotensiaal, baie meer as hoe Suid-Afrikaners dit sien.

Boonop beskou Europa Afrika se energiesektor as deel van sy Green Deal-ideaal om teen 2050 koolstofneutraal te wees. “Uit ’n Afrika-perspektief kan dit soos onbekostigbare malligheid klink, maar Euro- peërs het ’n manier om te doen wat hulle sê.

“Die voordeel vir Afrika lê daarin dat Europa homself nie geïsoleerd sien in die wêreld nie. Duitsers wys my gou daarop dat hul vleis van Argentinië of Botswana kom. Hul koper kom van Zambië en hul goud en sitrus van Suid-Afrika. Europeërs meen dus om werklik koolstofneutraal te wees, moet sy verskaffers ook koolstofneutraal wees.”

Daar word dus reusebedrae geld bestee om handelsvennote te help om koolstofneutraal te word.

Wat van Eskom?

Oor die plaaslike energieverskaffer draai Holm nie doekies om nie. “Groot steenkool- en kernkragaanlegte is wêreldwyd ’n verouderde idee, maar dan gaan bou Suid-Afrika twee reuse-steenkoolkragsentrales en kyk die ooglopende oplossings, soos fotovoltaïese panele en wind, mis.”

Hy meen selfs al word hierdie argaïese kragsentrales onderhou en goed bestuur, sal hulle uiteindelik slagoffers van die vrye- markekonomie wees, want die alternatief is net soveel beter. “Die vraag is dus hoe vinnig jy Eskom kan kry om ook na hernubare energie om te skakel.”