Die maatskappy het in ’n handelsverklaring op die JSE se Sens-nuusdiens gesê dat sy wesensverdienste per aandeel vir die 12 maande tot 30 September minstens 42%, of 68,9c per aandeel, laer as in sy vorige boekjaar.

Die maatskappy herinner aandeelhouers egter aan die buitengewone verdienste wat hy in sy 2018-boekjaar behaal het, toe sy eierafdeling groot voordeel uit die styging in eierpryse getrek het. Dit was nadat die uitbreking van voëlgriep in 2017 tot ’n nasionale eiertekort gelei het.

Quantum sê in die tweede helfte van sy jongste boekjaar het sy voerafdeling danksy ’n styging in volume beter winsvlakke behaal. Danksy beter produksiedoeltreffendhede op sy kommersiële lêhenplase het sy boerdery-afdeling ook beter winsvlakke behaal.

Hy het egter laer winsvlakke in sy eierafdeling ervaar weens hoër voerkoste en ’n daling in eierpryse ná ’n styging in die aanbod van eiers op die nasionale mark.

Die maatskappy se resultate sal na verwagting op 28 November bekend gemaak word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.