Mnr. Sakkie van der Schyff, woordvoerder vir die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings, sê “die weer is, in teenstelling met aanduidings, in ons guns wat betref die wind.”

Van der Schyff sê voorbereidings vir die bestryding van brande wat nog kan opvlam, word gefinaliseer en hulpbronne word vir optrede toegewys.

Mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van instellings soos die sambreel-organisasie en Working on Fire gekry het om die brande gister onder beheer te kry. “As dit nie vir hulle was nie, sou ons gister die stryd verloor het.”

Olivier sê helikopters en vliegtuie is van gister af in die lug om die situasie te monitor en vinnig te kan aandui as een van die brande weer opvlam.

Skade

Oor die skade wat aangerig is, het Vrystaat Landbou gistermiddag gesê sowat 100 000 ha het volgens aanvanklike opnames in die slag gebly. Olivier sê dit kan meer wees, maar die finale skade sal bepaal kan word wanneer almal deeglike opnames op hul grond kan doen. “Duisende diere het doodgebrand of moes van kant gemaak word omdat hulle baie sleg gebrand het.” Sommige boere het hul totale kuddes verloor.

Olivier sê die skade-opname sal gebruik word om saam met Vrystaat Landbou aansoek te doen om die gebied tot rampgebied verklaar te kry, veral omdat baie van die boere steeds probeer herstel het van die meerjarige droogte in die gebied voor die brand voorgekom het.

Vinnige optrede

Intussen het die VF Plus en die DA gevra dat die staat so vinnig as moontlik moet optree om die gebied tot rampgebied verklaar te kry om die plaaslike gemeenskap by te staan.

Luidens ’n verklaring sê mnr. Jan van Niekerk, leier vir die VF Plus in die Vrystaat, ’n skrywe is gerig aan mnr. Thembeni Nxangisa, die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, om te versoek dat ’n volledige assessering so gou moontlik gedoen word om die omvang van die skade te bepaal en dat die gebied wat geraak is, tot rampgebied verklaar moet word.

Die party verwelkom ook die inhegtenisneming van die vermeende brandstigters. Die brande het ontstaan nadat betogers na bewering ’n watertenk op die R708 net buite Hertzogville aan die brand gesteek het omdat hulle ontevrede is oor die water wat aan hulle gelewer word. Nege mense is aangekeer vir kwaadwillige saakbeskadiging.

“Die skade wat die boeregemeenskap ly, is weens die mislukte ANC-regering en mislukte ingrypings van die provinsiale regering in die betrokke munisipaliteit. Dit sal daarom gepas wees dat amptenare wat tot inwoners se ontevredenheid bygedra het, ook aan die pen moet ry,” aldus Van Niekerk. Die party eis ook dat die provinsiale departement van samewerkende regering dringend by die Tokologo-munisipaliteit ingryp om die algehele gebrek aan dienslewering te beredder om verdere protesaksie hok te slaan.

Die party het ook ’n skrywe aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondsake en landelike hervorming, gerig om finansiële bystand aan die landbougemeenskap.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, sê die party verwelkom die versoek deur die parlementêre portefeuljekomitee van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aan Didiza om hierdie gebiede tot rampgebiede verklaar te kry.

Die DA het me. Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, gevra om die gebied tot rampgebied te verklaar, asook om toe te sien dat die proses vinnig afgehandel word, aangesien die gemeenskap spoedig hulp nodig het en nie burokratiese vertragings kan bekostig nie.

*Van die brande het omstreeks 14h30 weer opgevlam in die distrik van Hertzogville en brandspanne is na die gebied ontplooi sê Van der Schyff.