Mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê honderde vragte se hulp het al by hulle aangekom. “Ons het nie net vragte voer vir diere ontvang nie, maar ook baie vragte voedselhulp en selfs meubels.”

Olivier sê hulle is ook besig om voor te berei vir sowat 1 000 stuks vee (meestal skape en beeste) wat na die gebied op pad is. Die vee is geskenk om boere wat al hul vee in die brande verloor het, weer op hul voete te help. Talle boere het hul totale kuddes verloor in die brande waarin duisende stuks vee en wild doodgebrand het.

Drie brande het in die distrik Hertzogville ontstaan nadat betogers ’n watertenk en na bewering ook bande op die R708 net buite Hertzogville aan die brand gesteek het. Nog brande het gedurende die week in ander dele van die streek ontstaan weens weerlig.

brande kaart
Hierdie kaart dui die areas aan in die Wes-Vrystaat en Noord-Kaap wat deur verlede week se brand geraak is. Die satellietfoto is op 21 Oktober geneem. Verskaf deur die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings
brande kaart
Hierdie kaart dui die areas aan wat naby Boshof en Warrenton deur verlede week se brande geraak is. Die satellietfoto is op 21 Oktober geneem. Verskaf deur die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings
brande kaart
Hierdie kaart dui die areas aan wat naby Hertzogville deur verlede week se brande geraak is. Die satellietfoto is op 21 Oktober geneem. Verskaf deur die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings

Olivier sê hulle moes verskeie planne maak om te verseker dat hulle die krisis om die brande te probeer blus saam met die oorweldigende aanbiedinge van hulp te kon bestuur. “Dit het baie druk gegaan, maar dis welkome druk, want dit het ons gedwing om met nuwe planne vorendag te kom. Ons is oorweldig en dankbaar vir al die hulp.”

Hoë brandgevaar

Intussen sê mnr. Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings, hulle is op gereedheidsgrondslag vir nog moontlike brande vandag. “Die weersomstandighede bied ’n baie hoë brandrisiko, met warm winderige toestande wat verwag word. Vliegtuie is reeds in die lug oor die gebied om op die uitkyk te wees vir brandbare materiaal wat dalk smeul, sodat dit geblus kan word voor die wind dit weer laat opvlam.” Spanne van Working on Fire is ook op bystand.

Breytenbach sê weerlig het die naweek ’n paar brande in dié gebied, maar ook elders in die Vrystaat, tot gevolg gehad. Die brande kon vinnig in bedwang gebring word.

Hy het weer ’n beroep op lede van die publiek gedoen om nie ongeorganiseerd op brandtonele op te daag en hulle na brandlyne te haas nie. Dit volg nadat individue en groepe van reg oor die land verlede week in reaksie op paniekboodskappe op sosiale media die naweek ongeorganiseerd by brandlyne opgedaag het. Hulle het hulself in gevaar geplaas en gekoördineerde pogings om die brande in bedwang te bring, belemmer.

Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, sê verteenwoordigers uit die gebiede in die Wes-Vrystaat, asook Warrenton en Kimberley wat deur verlede week se brande geraak is, vergader op Dinsdag 27 Oktober om die situasie te bespreek en skadebepalings te finaliseer. Aansoeke om die gebiede tot rampgebiede te verklaar is reeds aan die gang. Na verwagting het sowat 100 000 ha in die slag gebly, hoewel dit tot 130 000 ha kan wees.