Mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die hulp wat hulle ontvang. Van die boere in die distrik het al hul weiding verloor, sommige het hul totale stoetkuddes verloor met duisende beeste, skape en stuks wild wat doodgebrand het of so ernstig beseer is dat hulle van kant gemaak moes word. Aanvanklike beramings dui aan dat 100 000 ha afgebrand het.

Een boer, die 28-jarige mnr. Tewie Nel, word in die waakeenheid van ’n hospitaal in Bloemfontein behandel vir erge brandwonde wat hy Maandag opgedoen het.

Intussen bly die spanne van die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings en Working on Fire van die Vrystaat en Noordwes op ’n gereedheidsgrondslag in die omgewing om toe te sien dat spoedig opgetree kan word sou die brande weens die heersende winderige toestande opvlam. Brande naby Boshof, in die rigting van die Noord-Kaap, het gistermiddag weer opgevlam, terwyl ’n brand ook in die rigting van Hartswater ontwikkel het.

Die sambreelorganisasie sê luidens ’n verklaring dat hoërisiko-toestande vir brande weens die wind vandag heers, en dat twee vliegtuie van 06:00 af op bystand is om te help, terwyl nog Working on Fire-spanne op bystand is. “Al die operasies sal beheer en gekoördineer word deur die insidentbestuurspan by Boshof.”

Kan nie vir staat wag

Intussen sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou, die organisasie en sy vennote wag nie dat die rompslomp met ramphulptoekenning van die staat uitgestryk word nie. Hulle het reeds ’n rampfonds gestig vir bystand aan die brandslagoffers. “Ons kan nie vir die regering wag nie en moet op ons eie voortgaan om te help.”

Vragte voer is reeds na die rampgebied op pad.

Die noodsaaklikste hulp wat die geteisterdes nou nodig het, is veevoer, waterinfrastruktuur vir veesuipings en heinings wat herstel moet word. “Heiningsmateriaal is in die veldbrande vernietig, asook deur vee wat voor die vlamme moes uitvlug,” sê hy. “Die grootste bekommernis is om troppe diere wat afgedwaal het, weer af te kamp.”

Die drie veldbrande het in die distrik Hertzogville ontstaan nadat betogers Sondag ’n watertenk en glo ook bande op die pad buite die dorp aan die brand gesteek het en die vuur deur sterk wind en hittegolftoestande aangevuur is. Nege mense is volgens die polisie in hegtenis geneem vir kwaadwillige saakbeskadiging.

“Die protesoptrede teen swak dienslewering het ’n tyd gelede op Hoopstad begin en het na Hertogville uitgebrei,” sê Wilken. “Dit is vir ons ’n bron van kommer dat die provinsiale regering nie aan dié kwessies aandag gee nie.”

Die organisasie het vroeër bepaalde eise aan mnre. Kwekwe William Bulwane, LUR vir landbou, en Butana Komphela, LUR vir polisie, paaie en vervoer, gestel, asook ’n memorandum van verstandhouding met hulle aangegaan om die probleme in die provinsie onder hul aandag te bring. Die organisasie het ook met die topbestuur van die polisie beraadslaag oor dié diens se optrede om die huidige vlaag van wetteloosheid in die Vrystaat hok te slaan.

Belangstellendes wat tot die Vrystaatse rampfonds wil bydra, kan ’n SMS stuur na 37846 of me. Elize Spence van VL se Bloemfonteinse kantoor by 051 444 4609 bel.

Dringende benodighede

TLU SA in die Vrystaat het ook begin om boere in die distrik te ondersteun. “Wanneer die regering boere nodig het, soos gedurende Covid-19, is ons net die beste, maar wanneer ons die regering se hulp nodig het, is daar doodse stilte,” sê mnr. Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA in die Vrystaat, in ’n verklaring.

Hy sê die boere het dringend breëspektrum-antibiotika en ander veemedisyne; energielekke soos melassemeel en/of lekblokke; gras, oesreste, mielies en enige ruvoer; enige weiding wat uitgespaar is en afgestaan kan word; pale, draad en omheiningsmateriaal om beskadigde infrastruktuur te probeer herstel; plastiekpype vir watervoorsiening; brandstof en vervoer vir skenkings; asook geld om die bostaande te voorsien.

Nog inligting oor TLU SA se veldtog en hoe om te help is by die skakel www.tlu.co.za/vrystaat-brande-traumafonds/ beskikbaar.