AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het dokumentasie by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien en gaan poog om die regulasies met betrekking tot petroleum-ontginning en -produksie te betwis.

Die regulasies is op 3 Junie vanjaar openbaar gemaak en staan wyd bekend as die regulasies vir hidrobreking – met verwysing na die proses wat behels om gas vanuit diep skalie-afsettings te ontgin.

Die uitvoerende hoof van die TKAG, mnr. Jonathan Deal, het dié kampvegtersgroep se siening soos volg opgesom: “Die regulasies is heeltemal onvanpas vir die doeleindes om 'n tegnologie soos hidrobreking te reguleer. Ander deurslaggewende onreëlmatighede inherent tot die regulasies bestaan ook en hierdie kwessies sal in die hof opduik. Op grond hiervan kan enige van die lisensies of permitte wat ooreenkomstig tot die regulasies uitgereik is, self gebrekkig wees.”

Mnr. Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, het bevestig dat briewe wat aan die Departement van Minerale deur beide organisasies deur die verloop van 2014 en 2015 geskryf is, nooit verantwoord is nie, en pogings om 'n vergadering met die nuut aangestelde Minister van Minerale, mnr. Mosebenzi Zwane, vas te maak, het nie gerealiseer nie.

luidens ‘n gesamentlike verklaring deur die TKAG en AfriForum, het die Departement van Minerale, met die duidelike steun van pres. Jacob Zuma, op talle geleenthede beloftes gemaak om ontginninglisensies aan verskeie aansoekers, insluitende Shell SA, Challenger Energy van Australië en Falcon Oil & Gas, teen die einde van 2015 uit te reik.