Wanneer jy die woord “boer” gebruik, dink jy gewoonlik aan iemand wat die meeste van sy tyd in die veld deurbring waar hy probeer om in die aansig van die elemente die beste moontlike oeste van die lande te haal. Maar deesdae lei nuwe tegnologie tot die ontwikkeling van suksesvolle plase in groot sakeondernemings.

Daar is boere wat uitstekend presteer en hulle op Forbes se lys van die rykste mense laat beland. En hoewel ’n Buffett onder die top-rykes tel, is daar ook die seuns van ’n Kroasiese ouerpaar wat in Australië boer op ’n plaas wat hul ouers in 1951 met net 25 melkkoeie begin het.

Perspektief uit SA

Die forensiese rekenmeester en bekroonde vryskutjoernalis dr. Philip Theunissen het in ’n ontledende artikel in Landbouweekblad bevind dat daar geen regstreekse verwantskap is tussen plaasgrootte en produksiedoeltreffendheid, en dat geen empiriese inligting bestaan wat die 80:20-reël vir landbouproduksie onderskryf nie. (“Groter is nie altyd beter”, LBW, 3 Julie 2015.)

1. Liu Yongxing (REGS), wat in die 1980’s ’n klein hoender-enkwartelplasie saam met sy broers begin het, het mettertyd een van die rykste mense in China geword. Sy persoonlike fortuin word op $6,6 miljard geraam. Hy het vroeg in die 1990’s die East Hope Group begin nadat sy pad met dié van sy drie broers geskei het. Al die broers het hul eie landboumaatskappye van stapel gestuur, en sowel Yongxing en sy broer Yonghao verskyn op Forbes se lys van die rykste mense. Die East Hope Group het belange in die landbou, eiendom en swaar masjinerie. In die landboubedryf konsentreer die maatskappy hoofsaaklik op die vervaardiging van dierevoer, met ’n produkreeks van meer as 100 produkte.
2. Stewart en Lynda Resnick Die grootste deel van die Resnick-familie se fortuin, wat op $4,2 miljard geraam word, kom van die pistasieneute en amandels wat hulle op hul plaas van sowat 26 000 ha in Kalifornië, Amerika, verbou. Hulle het meer $100 miljoen in volhoubare tegnologie belê om droogtebestande pistasieneutbome te kweek wat by die voortslepende droogte in Kalifornië die afgelope paar jaar aangepas is. (Sien ook die artikel “Megaboer gebruik waterkaping om droogte te fnuik”, LBW, 1 Februarie 2019.) Die Resnicks se landbou-onderneming is laat in die 1970’s begin toe Stewart besluit het om in groot stukke plaasgrond in die Sentrale Vallei van Kalifornië te belê. Vandag koop bykans die helfte van Amerikaners produkte van hul maatskappy, Wonderful Company. Die produkreeks sluit mandaryn-lemoene, Fiji Water en POM Wonderful (’n granaatsap) in.
rykste boere
3. Liu Yonghao (LINKS) is een van die rykste mense in China, met ’n fortuin wat Forbes in 2016 op $4,1 miljard geraam het. Dit het begin met ’n hoender-en-kwartelplaas wat hy saam met sy broers gekoop het. Liu het sy loopbaan as onderwyser by ’n tegniese skool begin. In 1982 het hy en sy broers ’n besigheid begin, waarvoor die vierstuks hul fietse en horlosies verkoop het en sowat $120 bymekaargemaak het. Hiermee het hulle hoenders en kwartels gekoop en grootgemaak, en dit aan boere in die landelike Sichuan-provinsie verkoop. Hulle het hul besigheid uitgebrei deur ’n verkoopsnetwerk vir dierevoer te begin. In 1992 was hul besigheid, Hope Group, een van die grootste verskaffers van dierevoer en een van die grootste nie-regeringskonglomerate in China. In 1996 het die broers hul sakeryk verdeel, en Yonghao het sy besigheid New Hope Group herdoop. Dit is mettertyd gediversifiseer en sluit eiendom en chemiese bedrywe in. Sy maatskappy is nou een van die grootste landboumaatskappye in China. In 2013 het hy die besigheid se leisels aan sy dogter Liu Chang oorgegee, maar ’n plek in die raad van die maatskappy behou.
4. Harry Stine Harry Stine, wat in 2015 deur die tydskrif Forbes as die rykste man in die Amerikaanse deelstaat Iowa beskryf is, is die dryfkrag agter Stine Seed, ’n suksesvolle saadmaatskappy. Hy is na raming sowat $3,6 miljard werd. Stine het op ’n plaas net buite Des Moines grootgeword en het sy saadteeltmaatskappy in die 1960’s begin. Stine, wat disleksie en ’n ligte vorm van outisme het, is briljant met dataverwerking en wiskunde. Stine Seed is die grootste private saadmaatskappy ter wêreld en lewer van die geneties mees robuuste sojaboonsade.
5. Blairo Maggi Blairo Maggi van Brasilië het die landbou in sy bloed, want hy is die seun van Andre Maggi, die stigter van Andre Maggi-groep, die grootste private sojaboonprodusent ter wêreld. Die groep se verkope het in 2012 $3 miljard beloop, wat Blairo Maggi ’n plek op Forbes se lys van rykste mense ter wêreld verseker het. Die Andre Maggi-groep word gelei deur Andre se vrou, Lucia, maar Blairo besit meer as 16% van die groep. Die maatskappy het belange in die kunsmis-, energie-, rubber- ekstraksie- en vervoerbedryf. Blairo is in 2002 tot goewerneur van die deelstaat Mato Grosso in Brasilië verkies. Mato Grosso is in baie opsigte ideaal vir sojaboonverbouing. Deesdae is hy ’n senator wat dié deelstaat verteenwoordig. Hy werf stemme vir koolstofvergoeding om te keer dat boere woude afkap.
6. Tony Perich Tony Perich en sy broer, Ron, het ’n melkplaas, wat hul Kroasiese ouers in 1951 met 25 melkkoeie begin het, geërf. Vandag het hulle meer as 2 000 koeie en is daar ook plase in Wes- Wyalong en Trangie in Australië, waar die maatskappy graan verbou en vee grootmaak. Die plase beslaan nagenoeg 11 000 ha. Tony Perich se persoonlike fortuin beloop sowat $750 miljoen. Bygesê, die grootste helfte van die broers se rykdom is opgebou deur hul Greenfields- eiendomsontwikkelingsmaatskappy, wat al meer as 12 500 wooneenhede in Wes-Australië verkoop het.
7. Colin en Dale Armer Die Armer-familie het ’n plek op die lys van rykste mense in Nieu-Seeland losgeslaan danksy hul hoogs suksesvolle melkboerdery. Hulle is die eie- naars van Dairy Holdings, die grootste suiwelkonglomeraat in Nieu-Seeland. Hul ryk- dom word op sowat $535 miljoen geraam. Die Armers het hul onderneming in die 1990’s begin toe hulle ’n melkplaas aangeskaf het, maar deesdae het die groep 58 melk- plase op die Suideiland, asook weidingsblokke vir die koeie.

Voorstanders van boerdery op nywerheidskaal beweer “groter is beter” as dit by kosproduksie kom. Die bron hiervan is dikwels maatskappye wat groot tegnologie voorstaan. Veral in Amerika is kleinskaalse plaastegnologie gebrandmerk as ondoeltreffend en dat die benutting van genetika, groot werktuie en rekenarisering net werkbaar is op groot plase.

Al hoe meer stemme gaan egter op teen dié opvattings, en studies toon dat kleiner plase doeltreffender as groot plase op nywerheidsvlak is. Daar bestaan ook ’n plafon tot waar ’n groeiende besigheid skaalvoordele kan geniet. Groter boerderye boet doeltreffendheid in, maar sodra die boerdery middelslaggrootte bereik, neem die produksievermoë en doeltreffendheid weer toe.

Op groter plase vergroot die produksiekoste per eenheid, hoofsaaklik toegeskryf aan duurder werktuie en meer chemikalieë om gewasse te beskerm. In Suid-Afrika vind daar tans ’n klemverskuiwing plaas na die groter beskikbaarheid van tegnologie vir die deursnee- en selfs kleiner boer. 

Bronne: Fatal Harvest: The Tragedy of Industrial Agriculture (Andrew Kimbrell); studie van Computus in die Oos-Vrystaat; studie deur die Amerikaanse navorsingsraad.

Dié artikel het oorspronklik op Luxatic.com verskyn, en is aangepas.