Dit verg fyn korrel selfs voordat die groot werktuig tussen die rye mielies invaar. Want op die stroper se pad na die landerye is daar eers ’n toets vir die senuwees. 

Dit sit nie in enigeen se broek om ’n klas 8-stroper se dubbelwiele sekuur oor ’n smal bruggie te stuur nie. Trouens, op Middelpunt is daar sommer drie sulke bruggies ná mekaar, vertel mnr. Theunis Pretorius van MD Foundation van Ficksburg in die Oos-Vrystaat.

Dié saamboer-vennootskap se kuilvoermielies, sojabone en sonneblom lê wydverspreid in dié distrik met sy klowe en valleie. Wanneer die mielies, sojabone en sonneblom moet af, beweeg die reuse-masjinerie oor brûe wat dateer uit ’n tyd toe stropers nog ysterwiele gehad het.

“Die padmakers van die 1940’s het seker nie gedink ons gaan eendag met sulke groot stropers oor daardie brûe moet ry nie,” sê Theunis laggend.

In die video is sy seun, Sakkie, ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch, in die stuurkajuit. Theunis sê Sakkie is ’n koelkop.

“Hy het grootgeword op die stropers. Hy ry daarom gereeld oor die bruggies. Maar dit is steeds angswekkend om met so ’n groot ding oor die bruggies ry. Sy wiele is baie wyd en hulle loop oor die kante van die bruggies.”

Die beste raad is om net die oë op die pad voor jou te hou, want as jy langs jou kyk, raak jy benoud, vertel Theunis.

“Iemand moet maar voor staan en wys of jy na links of regs moet beweeg. En dan moet jy net kophou.”