“Die boere in die Swartland is opgewonde. Selfs dele soos Eendekuil het tot 30 mm reën gekry het,” vertel mnr. Andries Theron, ’n koringboer van Moorreesburg.

Volgens mnr. Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, het reën wydverspreid oor die Wes-Kaap se graangebiede geval, hoewel die neerslae taamlik wissel.

In die distrik Heidelberg is van 5 mm tot 12 mm vanoggend aangemeld, terwyl metings in die distrik Swellendam van 8 mm tot 20 mm wissel. Tot 44 mm is in die distrik Strandveld gemeet en 29 mm by Napier. In die distrik Rietpoel wissel neerslae van 18 mm tot 25 mm, terwyl by Greyton van 25 mm tot 30 mm gemeet is. Tot 60 mm is in die distrik Elim aangemeld. Sowat 30 mm is in die distrik Villiersdorp gemeet en van 30 mm tot 33 mm by Bredasdorp. Van 10 mm tot 20 mm is in die omgewing van Mosselbaai aangemeld, met reën wat vandag in die distrik George moontlik is, sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA.

“Ek is ook baie bly om te hoor dat tot 30 mm by Calvinia, Garies, Springbok en Loeriesfontein geval het,” aldus Theron.

Sneeu

sneeu
Sneeu by Laastedrif-boerdery by Ceres. Foto: Rossouw Cillie

sneeu,
Sneeu op die berge by Robertson. Foto: LW Wessels
sneeu
Sneeu op die berge by Robertson. Foto: LW Wessels

Sneeu kom op die berge by onder meer Ceres en Robertson voor, sê Wessels. Die Matroosberg-natuurreservaat het vanoggend op sy Facebookblad aangedui dat sy 4x4-roetes gesluit is weens swaar sneeuneerslae.

“Hierdie reën en sneeu is vir ons goud werd. Die wêreld lyk vanoggend klaar anders. Die graan wat reeds opgekom het, staan nou in nat grond en die sneeu op die berge vul op uiteindelik die damme aan” sê Theron.

Mnr. André Jordaan, hoofbestuurder van die Rogge Cloof-landgoed in die distrik Sutherland, sê hulle bibber behoorlik met goeie sneeuneerslae wat vanoggend daar voorgekom het. Dit is die tweede keer dié winter dat dit in dié gebied sneeu.

sneeu,
'n Sneeukombers bedek die Rogge Cloof-landgoed. Foto: André Jordaan

Sneeu is op sosiale media by die Tiffendell-ski-oord en op die Sneeuberge by Graaff-Reinet in die Oos-Kaap aangemeld.

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die koue weer sal tot die naweek voortduur. Volgens weermodelle gaan temperature oor die grootste deel van die suidelike en sentrale binneland tot die laagste vlakke die seisoen daal, met maksimum temperature van laer as 15 °C en minimum temperature benede vriespunt wat gaan voorkom. “Temperature van onder -5 °C is vroegoggend moontlik oor groot gedeeltes van die Vrystaat, die Hoëveld van Mpumalanga en die Oos-Kaapse binneland. Temperature gaan ook daal oor die noordelike gedeeltes van die land met Pretoria wat van 11 tot 16 Junie minimum temperature onder 5 °C kan verwag.”