Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, lewer môre sy begrotingsrede.

Geldenhuys sê TLU SA twyfel of daar nog enige nut daarin is om ’n staatsbegroting saam te stel en voor te hou. “Ons is oortuig presies dieselfde geykte voordrag sal weer opgedis word,” sê Geldenhuys. “Verder sal die beloofde geld vir spesifieke sake net weer in iemand se persoonlike koffer beland en nie aangewend word waarvoor dit geoormerk is nie. Dienslewering sal ’n droom bly.”

Indien Mboweni ’n “geloofwaardige begroting” wil bekend stel, meen Geldenhuys hy moet aan die volgende aandag gee:

• Die besnoeiing van staatsuitgawes;

• Planne om die staatskuld aan te pak;

• ’n Verbod op salarisverhogings vir staatsamptenare totdat die ekonomie beduidend groei;

• Infrastruktuur wat die ekonomie kan stimuleer;

• Kundigheidsvlakke in die staatsdiens, asook prestasie ten opsigte van dienslewering;

• Departementshoofde se aanspreeklikheid vir korrupsie;

• Beleide wat beleggings verdryf, soos swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding;

• Werkloosheid; en

• Die verandering van die wet sodat inwoners uitgawes vir hul persoonlike veiligheid van belasting kan aftrek.

Geldenhuys het ook spesifieke prioriteite vir die landbousektor geïdentifiseer wat die organisasie hoop in die begrotingsrede uitgelig sal word:

• Voldoende finansiering vir doeltreffende polisiëring en die voorsiening van die middele wat die polisie nodig het om diens van ’n hoë gehalte te lewer, asook die skep van spesialiseenhede wat spesifiek konsentreer op bepaalde misdaad soos plaasaanvalle.

• Die daarstelling van die nodige infrastruktuur om die ekonomie te laat funksioneer.

• Voorsiening om tydens rampe die nodige ondersteuning vir boere te kan gee.

• Die daarstelling van ’n staatsdiens wat doeltreffend funksioneer.• Voldoende geld om wettige grondeise af te handel en daarna toe te laat dat die mark grondbesit reguleer.

• Die skep van beleggingsvertroue deur onder meer vernietigende beleidsbenaderings soos onteiening sonder vergoeding te laat vaar.

Geldenhuys sê TLU SA hoop veral dat vir die werklikheid in Suid-Afrika begroot sal word en dat die regering sal besef hy moet op ekonomiese groei konsentreer.

“Ons is baie bekommerd dat die ANC sal voortstu op sy ideologiese pad van ekonomiese vernietiging. Die markkragte is uiteindelik die faktor wat sal bepaal of daar ekonomiese groei sal wees. Dit beteken dat die regte dinge toegepas moet word, wat dan vertroue vir beleggings sal skep. Die beleidsonsekerheid en in baie gevalle selfs die wegjaag van kapitaal is ongelukkig die bestuurstyl van die ANC.

“Ekonomiese groei is nie dinge wat in staats- of begrotingsredes aangekondig word en dan is dit skielik die werklikheid nie. Dit word verkry vanuit ’n stabiele en gesonde beleidsomgewing wat vertroue inboesem.”