“Dit kan weens die openbare druk wees of dalk net ’n strategie om tydens ’n volgende verhoor aansoek te doen,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van Vrystaat Landbou (VL).

Volgens Esterhuyse het VL adv. Nhavilla Somaru, direkteur van openbare vervolging, in kennis gestel van sy voorneme om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan. Een van die hoofvereistes wat VL met die protesoptrede op Hennenman gestel het, is dat misdadigers wat by plaasaanvalle betrokke is, nie borgtog kry nie.

Die protesoptog van VL het betreklik vreedsaam op Hennenman verloop en die skare aanwesiges van sowat 500 het omstreeks 10:30 uitmekaar gegaan nadat die amptelike verrigtinge in die openbare ruimte by die landdroshof afgehandel is.

Mnr. Jaco Minnaar, voormalige voorsitter van Graan Suid-Afrika, sê die georganiseerde byeenkoms kan as geslaag en voorbeeldig beskryf word met die regte klem deurdat die erns van plaasmoorde en landelike geweldsmisdaad beklemtoon is.

Minnaar, van die plaas Botesrust, was ’n buurman van mnr. Pieter Hills wat op 5 November op die plaas Zwartpan vermoor is, en sy seun Eddie wat later in ’n hospitaal beswyk het.

’n Klein groepie mense het ná die amptelike verrigtinge die ou volkslied gesing, maar is deur die meeste aanwesiges stil gemaak ter wille van die nagedagtenis van die Hills. “Die hoofdoel van die byeenkoms was om medelye met die Hills-familie te betuig en borgtog vir die verdagtes teen te staan,” sê Esterhuyse.