Aanplantings en algemene weervoorspellings lyk aansienlik beter as verlede jaar hierdie tyd, maar die teenoorgestelde geld vir pryse.

Vraag en aanbod-berekenings vir mielies en ander graangewasse word gewoonlik vir ‘n jaar of meer vooruit gedoen. Die binnelandse verbruik van mielies is relatief konstant en gewoonlik is dit die grootte van die aanbod (oes) wat onseker is.

‘n Ander belangrike deel van die verwagte vraag en aanbod is die hoeveelheid eindvoorraad waarmee die primêre gebruikers van mielies gemaklik is. In die geval van wit mielies wissel menings van so laag as 300 000 ton tot soveel as 1 miljoen ton.

Binnelandse mark

Die binnelandse mark (Suid-Afrika en omliggende buurstate) vir mielies kan in drie basiese afdelings ingedeel word. Die eerste gedeelte is geelmielie-spesifiek, maw. wit mielies kan nie ‘n substituut vir geel mielies wees nie. Die tweede gedeelte is witmielie-spesifiek en kan nie deur geel mielies vervang word nie. Die derde afdeling is dié deel van die dierevoermark waar verbruikers geel mielies verkies, maar vir effens goedkoper net so maklik wit mielies kan gebruik.

Nadat hierdie berekenings gedoen is, kan een van ses scenarios, soos in die tabel hieronder uiteengesit, as die mees waarskynlike gekies word. Scenario 1 was tipies van omstandighede verlede jaar hierdie tyd. Daar was ‘n duidelike tekort aan albei produkte voorsien en pryse vir albei het tot invoerpariteitsvlakke toe gestyg (waar witmielie invoerprysvlakke ook al is).

Hoewel die koring (mielies in hierdie geval) op die land nog groen is, lyk dit asof ‘n surplus wit mielies geproduseer gaan word, maar dat daar steeds ‘n tekort aan geel mielies gaan wees.  Die belangrike vraag wat met hierdie siening saamgaan is: Sal die surplus wit mielies te min wees vir die oorblywende gedeelte van die dieremark wat nie deur geel voorsien kan word nie (scenario 4), sal die wit surplus so groot wees dat selfs nadat die dieremark voorsien is, diepsee wit uitvoere steeds gaan plaavind (scenario 5), of iewers tussenin (Scenario 6)?

Wat beteken dit?

Wat beteken die verskil in hierdie scenarios in rand en sent? Indien totale mielieproduksie te min vir die binnelandse vraag is, behoort wit- en geelmieliepryse naby invoerpariteitsvlakke te bly. Te veel vir binnelandse verbruik en pryse is by uitvoerpariteit. Die invoerpariteit van geel mielies tot by Randfontein is volgens Sagis om en by R3000 per ton (Scenario 4). Die uitvoer-realisasie van geel mielies vanaf Randfontein is R2000 per ton (Scenario 5). Die antwoord op bogenoemde vraag is in praktiese terme die verskil tussen mielieproduksie teen ‘n wins of verlies.

Wat moet produsente doen met ‘n Julie 2017 Safex-prys wat nou by R2400 is? In- en uitvoer-pariteitsvlakke hierbo genoem is bewegende teikens, wat besluite verder kompliseer. As die rand met R1 teenoor die dollar sou verswak, styg die vlakke hierbo genoem met R180 per ton. Sou die Chicago-prys van geel mielies met ‘n halfdollar per skepel (bushel) styg, styg pariteitsvlakke met R280 per ton. ‘n Soortgelyke versterking in die wisselkoers en ‘n Chicago prysdaling sal pryse met dieselfde hoeveelhede laat daal. Dit sal oorhaastig wees om groot hoeveelhede mielies teen ‘n vaste prys te kontrakteer en minimumpryskontrakte sal in hierdie stadium vir die meeste produsente ‘n beter keuse wees.

Die skatting vir aanplantings van 26 Januarie en eerste oesskatting op 28 Februarie sal meer duidelikheid oor omvang van die 2017 mielie-oes verskaf, maar dit kan dalk te laat wees vir enige sinvolle verskansing.

* Johann Strauss is ’n navorser by BVG Commodities.

mielie-scenarios