Dit was die boodskap van kundiges ná die skietdood van twee boere van Koffiefontein in die Vrystaat na aanleiding van ’n geskil oor waterregte. ’n Polisieman is ook doodgeskiet en nog een gewond.

Mnr. Tommie Esterhuyse, adjunkvoorsitter van Vrystaat Landbou, sê boereverenigings kan individue bystaan as ernstige geskille tussen bure ontstaan. Daarop kan die polisie betrek word met gereelde landelike veiligheidsvergaderings, waartydens die georganiseerde landbou en die polisie veiligheidskwessies saam aanpak.

“Wanneer ’n probleem ontstaan tussen ’n lid van ’n boerevereniging en iemand wat nie ’n lid is nie, kan besluit word dat die landbouers en die polisie die geval saam hanteer en besleg.”

Esterhuyse het sy kommer uitgespreek dat die emosionele toestand van boere, veral na aanleiding van die droogte en ander sosio-politieke werklikhede wat die landbou in die gesig staar, tot sulke uiterste optrede soos die Koffiefontein-voorval kon bydra.

Paart eers

Mnr. Adriaan Groenewald, ’n prokureur wat in waterregte spesialiseer, wys daarop dat die oorgrote meerderheid formele regsgeskille op die nippertjie voor die aanvang van ’n verhoor geskik word. Hy sê mediasie bied ’n veel goedkoper alternatief, wat dikwels ook ’n beter uitkoms het.

Partye behoort eerstens self onder mekaar te onderhandel om die geskil by te lê, sê hy.

“Slegs wanneer die onderhandelinge onsuksesvol blyk te wees en geen vordering gemaak word nie, behoort mediasie oorweeg te word.

“In fasiliterende mediasie, anders as by litigasie of arbitrasie, neem die partye self die besluit hoe die geskil opgelos kan word. Die mediator skep slegs die ruimte waarbinne die partye ’n oplossing kan bereik,” sê hy.

Mediasie werk

Groenewald, self ’n geregistreerde mediator, vertel van ’n onlangse geval waarby hy betrokke was. Die buurman het sy damwal sonder magtiging verhoog, en ’n gebruiker stroomaf kon nie sy wettige watertoewysing onttrek nie.

“Indien die reg sy beloop geneem het, wat maande indien nie jare nie sou duur, met die gepaardgaande koste, sou die buurman waarskynlik sy damwal moes afbreek. Dit sou teen ’n geraamde koste van R300 000 wees, hy sou die nodige rehabilitasiewerk moes doen na gelang van die lisensie-aansoek, en daar sou nie meer sprake van buurmanskap wees nie.

“Deur mediasie het die partye besluit om slegs die uitlaat laer te maak, sodat die gebruiker sy toegewysde water kon bekom. Die damwal is net so gelos, hangende ’n lisensie-aansoek waarby alle partye deur ’n openbare deelnameproses betrek sou kon word.

“Die buurmanne braai steeds saam.”

Kontak hulle

Groenewald sê etlike organisasies in Suid-Afrika bedryf kommersiële mediasies. Die bekendste is Mediation in Motion (www.mediationinmotion.com). Partye registreer op die webwerf en word in kontak gebring met ’n gepaste mediator, waarna ’n voorgeskrewe prosedure gevolg word. Ander organisasies wat soortgelyke dienste bied, is die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mediators (www.saam.org.za) en die Arbitrasiestigting van Suid-Afrika (www.arbitration.co.za).

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.