“Versadigde grond, asook vol damme en riviere wat oorstroom, het die risiko vir grootskaalse oorstromings baie verhoog as verdere swaar reën gaan voorkom,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Swaar reën het daartoe bygedra dat onder meer die Gariepdam oorloop. Op 15 Januarie het dele van Bloemfontein meer as 100 mm in 24 uur gemeet, en op 9 Januarie het die distrik Lady Grey in die Oos-Kaap tot 130 mm in 24 uur gemeet. Droër gebiede in die Oos-Kaap, soos Jansenville, het ook hul eerste reën begin kry, hoewel dit minder as 30 mm was.

Die droër gedeeltes van Mpumalanga, soos Ermelo, Secunda, Carolina, Amersfoort, Devon, Middelburg en Delmas, het sedert 13 Januarie van 20 mm tot 80 mm gekry, wat baie sal help om die nadelige uitwerking van die droër toestande op grane te stabiliseer.

Groot gevaar

Die tropiese storm Eloise wat in aantog noordoos van Madagskar is, kan volgens Van den Berg in die komende weke groot risiko’s vir grootskaalse oorstromings inhou. Die storm beweeg weswaarts en sal Mosambiek binne die volgende paar dae bereik.

“Die groot vraag is watter pad die storm gaan volg en ook hoe sterk dit gaan word,” sê Van den Berg. “Normaalweg is die pad (van so ’n storm) weswaarts tot in die Mosambiekkanaal of kusgebiede van Mosambiek, dan draai dit suid en later suidoos waar dit wegbeweeg in die suidelike Indiese Oseaan in.”

Enkele gevalle het wel al voorgekom waar ’n sterk laagdruk- of tropiese storm verder weswaarts beweeg oor Mosambiek, Zimbabwe en die noordelike dele van Namibië. “Dit vind dan aansluiting by laagdrukstelsels wat oor die suidwestelike dele van Afrika ontwikkel en suidoos gedraai het oor die suidelike dele van Namibië, die westelike dele van Botswana en Suid-Afrika,” aldus Van den Berg. “Dit is veral moontlik met die huidige La Niña-stelsel, waar sterk laagdrukstelsels oor Wes-Afrika ontwikkel.”

Hy sê dis egter belangrik om kennis te neem dat ’n tropiese storm se sterkte afneem namate dit oor land beweeg, hoewel dit steeds sterk genoeg is om veral baie reën te veroorsaak.

“Die drie moontlikhede van die storm is: Om oor die binneland weswaarts tot in Namibië en dan suidoos oor Botswana, die oostelike dele van Namibië en sentrale dele van Suid-Afrika te beweeg, alternatiewelik dat dit suid beweeg in die Mosambiekkanaal in en oor aangrensende dele van Mosambiek en Suid-Afrika, of derdens iewers tussen-in.”

Swaar reën vanaf 24 Januarie

Die waarskynlikste pad vir die storm tans is om wes te beweeg na Namibië, en dan suidoos oor die sentrale en veral die oostelike dele van Suid-Afrika. “Tydgewys behoort Eloise minder reën oor die binneland te veroorsaak tot ongeveer 24 Januarie. Van 24 tot 30 Januarie kan meer reën oor die sentrale tot oostelike dele van Suid-Afrika voorkom, met baie swaar reën oor die noordoostelike dele van die land, wat insluit die noordelike dele van KwaZulu-Natal, die Laeveld van Limpopo en Mpumalanga.”

Die kans is ook goed vir verdere reën oor die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. “Daar is ’n sterk moontlikheid van redelike hoeveelhede reën in die laaste week van Januarie in die opvanggebiede van die Vaal- en Oranjerivier, wat die vloedrisiko kan vergroot. Die opvangsgebiede van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal het die grootste risiko. Hierdie water gaan egter Indiese Oseaan toe en tans is damme meer ontvanklik vir water in daardie gebiede as gevolg van minder reën tot dusver.”

Van den Berg sê dit is belangrik om kennis te neem dat onsekerheid bestaan oor die ontwikkeling en pad van dié tropiese storm. Die reënvalpatroon kan dus nog baie verander in die volgende twee weke.

Die Suid-Afrikaanse Weerkantoor monitor die ontwikkeling van die storm en sal die publiek ingelig hou daaroor.