Die melkkoper Desmanda gaan van Oktober af 16 boere in die omgewing van Ottosdal, Lichtenburg, Schweizer-Reneke en Vryburg se melk nie meer oplaai nie. Hy het onlangs ook opgehou om sekere Vrystaatse boere se melk op te laai.

Die onderneming, wat melk by boere koop om dit aan verwerkers te verkoop, sê in ’n brief aan produsente daar is elders boere wat melk teen R1/liter wil verkoop.

Noordwes-boere het aan Landbouweekblad gesê dit is glo oorskotmelk van boere in KwaZulu-Natal wat aan Clover se filiaal Dairy Farmers of South Africa (DFSA) lewer.

Desmanda wou nie kommentaar lewer oor die staking van die betrokke Noordwes-roete nie.

Mnr. Johan Scribante, een van die Noordwes-boere wat geraak word, sê hy neem Desmanda nie kwalik nie. “Desmanda is ’n middelman en is, soos boere, ’n prysnemer.”

Kwotas

Volgens Scribante het die groot kettingwinkelgroepe en die DFSA tot die krisis in die binnelandse provinsies bygedra.

Kettingwinkelgroepe druk die melkprys af deur onder meer met die invoer van langlewemelk te dreig, terwyl die DFSA nou slegs boere se sogenaamde A-kwotas gaan oplaai, sodat dié boere kopers vir miljoene liters melk soek.

Mnr. Johan Strydom, melkboer van Lichtenburg, voorsitter van die Melkprodusente-Organisasie (MPO) Noordwes en ’n DFSA-direksielid, sê die DFSA se verwerkingsvermoë is ten volle benut en daarom laai hy nie die sogenaamde B- en C-kwotas op nie.

Boere koop ’n A-kwota by die DFSA, wat dan kontraktueel verbind is om die betrokke hoeveelheid teen ’n bepaalde prys op te laai. ’n A-kwota word net beskikbaar wanneer ’n boer een verkoop.

B- en C-kwotas word net opgelaai as die DFSA dit nodig het en het nie ’n vasgestelde prys nie.

Die geraakte boere in Noordwes het nie baie ander moontlike kopers nie. Die enigste groot melkkopers is die DFSA en Transem, wat melk in die omgewing van Klerksdorp koop.

Diversifiseer

Scribante sê kopers maak boonop hul somme fyn oor die afstand wat hulle na melkboere moet ry, en hoeveel melk hulle by ’n punt kan oplaai. “Die ekonomiese afsnypunt is 45 c/liter.”

Strydom sê baie van die boere wat geraak word, het klein kuddes van 30 tot 50 koeie, sodat Desmanda net al om die ander dag ’n tenkwa gestuur het. Scribante sê dit sluit boere in vir wie hul melkboerdery hul “brood en botter” is.

Hyself het sy boerdery reeds redelik gediversifiseer, weens sy kommer oor die melkbedryf.

Melkboere in sy omgewing kyk volgens hom na moontlikhede om die plaaslike mark beter te benut deur melk plaaslik te verwerk en verkoop, moontlike samewerking met die staat rakende skoolvoedingsprogramme en na alternatiewe gebruike van melk, soos vir plantbemesting en blaarvoeding. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.