Dit is die gevolgtrekking wat mnr. Willie Clack, nasionale voorsitter van die veediefstalvoorkomingsforum, maak nadat hy in 2018 ’n studie gedoen het om die vlakke van landelike misdaad in die Australiese deelstaat Nieu-Suid-Wallis en Suid-Afrika met mekaar vergelyk.

Clack, ’n deeltydse boer wat by die departement van korrektiewe bestuur by die skool van justisie aan die Universiteit van Suid-Afrika werk, sê hy het die navorsing onderneem om aan te dui dat hoewel die vlakke van misdaad en geweld verskil, misdaad oral ter wêreld voorkom.

Clack se navorsingsartikel, “A comparison of rural crimes in Australia (NSW) and South Africa (2019) 2 (special issues on Rural Crime)”, wat onlangs deur UTS ePress in die International Journal of Rural Law and Policy (Artikel ID 6467) gepubliseer is.

Clack skryf onder meer hoewel Australië hom onder die topvyf lande op die Verenigde Nasies (VN) se menslike-ontwikkelingsindeks bevind, ondervind die land nogtans misdaad.

Die VN se ontwikkelingsprogram gebruik die indeks om lande volgens drie aspekte van menslike ontwikkeling te meet, naamlik gesondheid, opleiding en lewenstandaard. Die Wêreldbank het in 2016 besluit om nie langer na lande as ontwikkeld of ontwikkelend te verwys nie, maar om die indeks – waarvolgens alle lande aan dieselfde aspekte gemeet word – te gebruik. Australië en Suid-Afrika beklee tans onderskeidelik die derde en 113ste posisie op die indeks.

Statistieke

Clack het by prof. Elaine Barclay, ’n vooraanstaande navorser oor landelike misdaad aan die New England-universiteit in Armidale, Nieu-Suid-Wallis, navraag gedoen oor die navorsing wat sy in 2015 in dié streek oor landelike misdaad vir haar navorsingstuk “The context of farm crime in Australia” gedoen het.

Clack het toestemming gekry om die vraelys wat sy vir haar navorsing gebruik het, vir ’n Suid-Afrikaanse studie aan te pas.

Agri SA het in 2017 die Buro vir Marknavorsing aan Unisa opdrag gegee om ’n studie oor landelike misdaad te onderneem. Clack en prof. Deon Tustin, hoof van die skool van justisie by Unisa, het in 2017 met Agri SA begin saamwerk. ’n Verkorte weergawe van die vraelys is aan lede van die organisasie versprei om inligting te bekom oor onder meer die voorkoms, finansiële impak en aanmelding van misdaadvoorvalle deur kommersiële boerderyeenhede in Suid-Afrika.

Volgens die statistieke wat vir Suid-Afrika ingesamel is, word tot 25,1% van die kommersiële boere in die land deur gewapende roof beïnvloed, met 5,7% wat al slagoffers van aanranding was, en onderskeidelik 1,3% en 1,1% wat al slagoffers van onderskeidelik poging tot moord en verkragting was.

Anders as in Suid-Afrika word in Australië nie statistieke bygehou vir moorde op plase. Die landwye moordsyfer in Australië is 0,9 per 100 000 mense en in Suid-Afrika is dit 34 per 100 000 mense.

Clack sê dit is duidelik dat Suid-Afrika baie gewelddadiger as Australië is. “In Nieu-Suid-Wallis word minder moorde gepleeg as die moordsyfer vir boere in Suid-Afrika.”

Volgens Barclay se navorsing word sowat 23% van die boere in Australië deur die diefstal van brandstof geraak, terwyl 13% die onwettige storting van afval en 7% diefstal van hout ervaar. Dié misdade is nie in die Suid-Afrikaanse konteks gemeet nie. 

Vergelyking

In die tabel word aangedui hoe metings van verskillende landelike misdade wat in Australië en Suid-Afrika voorkom, vergelyk. Drie van die grootste probleme wat Australiese boere ervaar, is diefstal van plaasgereedskap en toerusting (26%), diefstal van wild en onwettige jag (59%) en veediefstal (27%).

Die drie misdade waardeur die meeste boere in Suid-Afrika geraak word, is diefstal van plaasgereedskap en toerusting (35%), diefstal van infrastruktuur op plase (37%) en veediefstal (40%).

tabel
Die tabel vergelyk die aangemelde misdade in Australië en Suid-Afrika met mekaar

Bron: A comparison of rural crimes in Australia (NSW) and South Africa (2019) 2 (special issues on Rural Crime), gepubliseer deur UTS ePress in die International Journal of Rural Law and Policy (Artikel ID 6467)

Gevolgtrekking

In sy gevolgtrekking sê Clack hoewel Australië in oppervlakte baie groter is as Suid-Afrika, is dit moontlik om die data van Nieu-Suid-Wallis met Suid-Afrika te vergelyk ten opsigte van die oppervlakte. In albei lande bestaan die meeste kommersiële boerderye uit beeste, skape en graanverbouiing of ’n mengsel van twee of meer van dié tipes boerderye. Die studie het bevind dat die koers van landbouververwante misdaad in Suid-Afrika amper dubbeld so hoog soos in Australië is, buiten vir diefstal van wild en onwettige jag.

Verder is dit ook duidelik dat meer mense in Suid-Afrika se landelike gebiede leef en in die landbou werk as in Australië. “Landelike gebiede in Suid-Afrika het hoë vlakke van ongeletterdheid, hoë vlakke van armoede en hoë vlakke van werkloosheid, wat alles ’n impak het op die hoë vlakke van misdaad in die land,” sê Clack.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.