Amerika behoort genoeg mielies te plant om in die vraag uit Suid-Afrika te voorsien, al gaan Amerika se eindvoorraad wit mielies in Augustus die laagste in ’n dekade wees.

Dit is omdat die premie wat Amerikaanse boere op wit mielies kan verdien, boere behoort aan te moedig om meer te plant.

’n Afvaardiging van die Amerikaanse Graanraad (USGC) was onlangs op ’n opvolgbesoek aan Suid-Afrika om te onderhandel oor struikelblokke wat invoer verhinder.

Mnr. Patrick Sparks, ’n risiko-analis van Global Risk Management en lid van die afvaardiging, het daarop gewys dat die Amerikaanse eindvoorraad net 78 749 ton sal wees.

Sterk premie

’n Sterk premie van sowat R400/ton bo die prys van geel mielies moedig boere egter aan om die meeste wit mielies sedert 2003 (bykans 350 000 ha) nou aan te plant.

Die goedkeuring van sekere geneties gemodifiseerde (GM) kultivars in Suid-Afrika bly egter ’n stok in die wiel vir invoer. Mnr. Christo Joubert, senior navorser van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), sê dit lyk nie of die goedkeuring betyds afgehandel sal wees nie.

“Die kans is goed dat Amerikaanse boere genoeg nie-GM mielies sal plant met die oog op uitvoer na Suid-Afrika. Die stewige premie op wit mielies spoor hulle aan. Volgens die USGC lyk dit of daar 12% meer saad vir wit mielies verkoop is.” Normaalweg is 72% van Amerika se wit mielies GM kultivars.

Mnr. Andrew Conner, bestuurder vir biotegnologie by die USGC, sê Amerika sal in Suid-Afrika se hele vraag na wit en geel mielies van sowat 3,5 miljoen ton (1,1 miljoen ton wit) kan voorsien as die struikelblokke oor GM uit die weg geruim kan word. “Daar is sekere stapelgeenkombinasies wat kommersieel beskikbaar is in Amerika wat nie vir invoergoedkeuring in Suid-Afrika voorgelê is nie.”