Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), sê daar is verskillende redes vir die afname in invoer.

Veranderinge in internasionale handel speel ’n belangrike rol. China het weens dieresiektes ’n tekort aan diereproteïen, en weens die spanning tussen Amerika en China, voer China nou baie hoender uit Brasilië in. Verder is die rand swakker as die Brasiliaanse real en dié twee redes het tot ’n daling in Brasilië se uitvoer na Suid-Afrika gelei.

Brasilië bly egter, met byna 70%, die land van waar die meeste ingevoerde hoender in Suid-Afrika kom.

Breitenbach sê ’n verdere rede vir die daling van 20%, in gewig, in die hoeveelheid hoender wat in Mei ingevoer is, is die hoër invoertariewe op stukke aan die been en ontbeende stukke, onderskeidelik 62% en 42%, wat op 13 Maart in werking getree het.

In Mei was die ingevoerde stukke aan die been, in gewig, 49% minder, terwyl 3,1% minder meganies ontbeende vleis ingevoer is. 

‘Wanverklaring’

Breitenbach sê daar is egter kommer dat stukke aan die been onreëlmatig as meganies ontbeende vleis ingevoer word, omdat laasgenoemde ’n nulkoerstarief het. Die pryse van ingevoerde produkte in dié kategorie het die afgelope tyd beduidend gestyg.

Die assosiasie van vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) en die SAPV het nou gesamentlik die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gevra om moontlike wanverklaring te ondersoek.

Die hoenderbedryf is ook bekommerd dat heel hoenders, waarop ’n invoertarief van 82% gehef word, as stukke aan die been ingevoer word.

“Ons vermoed heel karkasse word in twee gesny en dan as stukke aan die been ingevoer, of glad nie eens gesny nie, omdat ’n mens nie kan sien of só ’n produk gesny is wanneer dit in ’n 10 kg-pak ingevoer word nie.”

Meer as kwota

Breitenbach sê Covid-19 het verbruikers wêreldwyd se besteebare inkomste verminder en weens die gevolglike laer vraag na diereproteïen, asook ontwrigtings in waardekettings, is koue opbergingsplekke in Amerika, Brasilië en die Europese Unie vol.

Die SAPV beskou invoer uit Amerika tans as die grootste bedreiging.

Amerikaanse stukke aan die been is onderhewig aan ’n teenstortingstarief, maar ’n kwota daarvan, tans 68 590 ton/jaar, mag sonder dié tarief ingevoer word.

Dit was deel van onderhandelinge wat verseker het dat Suid-Afrika die voordele van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede (Agoa) kan bly geniet.

In die 2019-’20-kwotajaar is 82 593 ton egter ingevoer. Breitenbach sê in die vorige drie jaar is daar ook elke jaar sowat 20% meer as die kwota ingevoer en die bedryf twyfel of teenstortingstariewe op die hoeveelheid buite die kwota betaal is.

Die SAPV het verder in ’n onlangse ondersoek bevind dat 90% van alle ingevoerde hoender teen laer as die uitvoerlande se produksiekoste uitgevoer word en teen ’n laer prys in Suid-Afrika land as wat dit in die land van oorsprong verkoop word.

Breitenbach sê hul ondersoek het getoon hoender uit Brasilië, Ierland, Denemarke, Spanje en Pole word in Suid-Afrika gestort. “Vroeë aanduidings is dat die stortingsvlakke so hoog as 179% is.”

Die bedryf sal die kwessie takel volgens die riglyne hiervoor in die meesterplan vir die hoenderbedryf.