Volgens Baird, stigter van die organisasie, is daar tekens dat storting die afgelope 18 maande plaasgevind het.

Die bedryf moet hom nou staal teen ’n verwagte vloedgolf invoer namate Covid-19-beperkings internasionaal opgehef word.

“Voorsieningskettings is wêreldwyd ontwrig,” het Baird gesê in ’n webinaar wat FairPlay aangebied het. “In Amerika was daar tekorte aan hoendervleis, nie omdat minder hoendervleis geproduseer is nie, maar omdat minder versprei is.

“Dié hoendervleis lê iewers in koue opbergingsgeriewe. Wat gaan gebeur as die voorsieningsketting na normaal terugkeer? In die verlede is oorskot hoender in Suid-Afrika gestort. Hoe weet ons dit? Want ondernemings is daaraan skuldig bevind.”

Baird het verwys na die Ghanese hoenderbedryf wat deur invoer op die knieë gebring is. “Hoendervleis in Ghana kos nou agt keer soveel as tevore.”

Beskerm belange

Prof. David Taylor, emeritus-hoogleraar in farmaseutiese en openbare gesondheidsbeleid aan die University College London en kenner op die gebied van ontwikkelingsekonomie, het die Suid-Afrikaanse bedryf aangemoedig om nie bang te wees om sy belange regmatig te beskerm nie.

Suid-Afrika kan kyk hoe die Europese Unie en Amerika hul markte beskerm.

“In Brittanje is ons paranoïes oor Amerikaanse voedsel en daar is baie vals en misleidende inligting. Dit gaan alles oor die beskerming van ons eie belange. Daar is goeie rede vir lande om hul belange te beskerm, maar dit moet intelligent en eerlik wees, sonder om teen handel te wees.

“ ’n Mens het goeie, ingeligte beleidvorming nodig, wat oor wêreld- en nasionale ontwikkeling gaan. Swak gereguleerde of onbillike handel benadeel dikwels die weerloses.”

Breë steun

Tariewe kan nie die enigste stap wees om die plaaslike bedryf te beskerm nie, het dr. Sifiso Ntombela, hoofekonoom van die Nasionale Landboubemarkingsraad, gesê.

“Handelsbeleid is net een van die hulpmiddele, dit kan nie al ons probleme oplos nie.”

Toe Suid-Afrika hom in 1995 by die Wêreldhandelsorganisasie aangesluit het, het hy sy markte deur tariefverlagings baie oop gemaak en ook steun aan produsente verminder.

Klein produsente

Ntombela het gesê daar moet nou gekyk word hoe produsente en navorsing ondersteun en inklusiewe groei bevorder kan word, sodat klein produsente in die formele waardeketting gebring kan word.

Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), het die belang van klein produsente beaam en gesê die SAPV kommunikeer weekliks met 674 klein produsente, wat elkeen minstens 5 000 hoenders het.

“Ons moet ernstig in klein ondernemings ook belê, dit sal in die belang van die hele mark wees. Verlede jaar het 40% van klein produsente hul deure gesluit.”

Agri SA het intussen in ’n verklaring ’n beroep op die regering gedoen om waaksaam te wees oor ’n styging in die invoer van landbouprodukte weens internasionale voorraadsurplusse en oorvol opbergingsgeriewe.

Lees die berig by https://bit.ly/3fxAopK.