Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie, sê die SAPV het bewyse dat dié lande bevrore hoenderstukke op die Suid-Afrikaanse mark stort, wat “onbillike mededinging is vir plaaslike produsente, klein en groot, en plaaslike werkgeleenthede kos”.

“Hulle bring bevrore hoenderstukke in die land in teen pryse wat dikwels laer is as hul produksiekoste, en/of laer as waarvoor hulle dieselfde produk in hul tuismarkte verkoop,” sê hy in ’n verklaring.

Só word werkgeleenthede in die produksielande geskep, maar ekonomiese groei in Suid-Afrika gestrem.Breitenbach sê die onbillike praktyke is met die EU se verteenwoordigers in Suid-Afrika, asook die EU-uitvoerorganisasie AVEC bespreek. Die SAPV het aangedui dat hy om teenstortingstariewe sou aansoek doen as dit nie aandag kry nie.

Marges so hoog as 201% gevind

In sy aansoek by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) vra die SAPV vir teenstortingstariewe gegrond op die verskil tussen die prys waarvoor bevrore hoenderstukke in die produsentland verkoop word en die laer uitvoerprys daarvan na Suid-Afrika.

“Stortingsmarges van tot 201% is gevind,” sê Breitenbach. Dit was ondanks die bestaande invoertariewe.Hy sê uitvoerlande ontwikkel maniere om tariewe teen te werk, wat die verlaging van pryse insluit. “Ongelukkig word hierdie pryse, wat so laag is as R6,86/kg, nie na verbruikers deurgegee nie, maar dit skep bloot bykomende wins in die invoerwaardeketting.”

Itac sal ná sy ondersoek 'n aanbeveling maak aan mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging. Die proses kan sowat 12 maande duur.

Die aansoek word deur ’n groot aantal organisasies ondersteun, van graanprodusente, kleinskaalse boere en kontrakboere tot die meerderheidsvakbond in die hoenderbedryf en maatskappye wat afhanklik is van die pluimveewaardeketting, soos verskaffers van voer en toerusting.

Gelyke speelveld is nodig

Breitenbach sê dit is ’n duur proses om aansoek te doen om teenstortingstariewe, maar dat die bedryf onder voortdurende druk van onbillike mededinging is en daarom geen keuse het nie.

“Tot R6,1 miljard verlaat elke jaar die land slegs weens hoenderinvoer alleen.”

Hy sê die doel met die aansoek is om die speelveld gelyk te maak en billike mededinging op die plaaslike mark te verseker.

Suid-Afrika produseer hoendervleis goedkoper as die EU-lande, maar dié lande stort volgens hom hul hoendervleis in Suid-Afrika omdat hulle enige prys sal aanvaar vir hoendervleis wat hul eie markte nie wil hê nie.

Brasilië se gesubsideerde produksiekoste is laer as Suid-Afrika s’n en van Brasilië se hoendervleis word teen die helfte van die prys ingevoer as waarvoor dit geproduseer word, sê Breitenbach.