Só beweer die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) in ’n verklaring waarin hy sy kommer oor die veiligheid van meganies ontbeende hoendervleis uit Brasilië lug.

Luidens mediaberigte het die Brasiliaanse polisie ’n voormalige uitvoerende hoof van die Brasiliaanse maatskappy BRF SA in hegtenis geneem as deel van ’n ondersoek na beweerde bedrog met voedselveiligheidstoetse by dié maatskappy.

Suid-Afrika voer groot hoeveelhede meganies ontbeende vleis uit Brasilië in. Dit is in ’n smeer-vorm wat in verwerkte vleis, soos polonie, asook Weense en ander worsies, gebruik word.

BRF SA is volgens die SAPV een van die grootste pluimvee-uitvoerders ter wêreld.

'Dit moes lank gelede al gebeur het'

Die SAPV vra nou die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye of BRF SA ’n verskaffer van meganies ontbeende vleis aan Suid-Afrika is en – indien wel – hoeveel ton daarvan elke maand van dié maatskappy ingevoer word.

Die organisasie sê wanneer die Listeria-toetsprotokol ingestel word, sal dit ’n stap vorentoe wees om Suid-Afrikaanse verbruikers te beskerm, “maar dit moes lank gelede al gebeur het”.

Die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf het al jare lank ’n self-gefinansierde Listeria-protokol en die departement het 24 uur per dag ongehinderd toegang tot slagplase, sê die SAPV.

“Dit is tyd dat ingevoerde vleis en pluimveeprodukte aan dieselfde standaarde as plaaslik vervaardigde produkte moet voldoen.

“Ons het saam met die departement gewerk om die doeltreffendste maatreëls in te stel om verbruikersveiligheid te verseker, waarvan die jongste die Onafhanklike Vleisinspeksieskema en die hersiening van toetsprotokolle vir vleis is.

“Die bedryf is bekommerd omdat Suid-Afrika voortgaan om ongetoetsde en ingevoerde, meganies ontbeende vleis te aanvaar terwyl baie lande Suid-Afrika se verwerkte vleisprodukte wegwys. Nou kom ons agter dat voedselveiligheidsmaatreëls in Brasilië dalk omseil is.”

‘Wit slym’

Prof. Louw Hoffman, ’n bekende vleiskundige verbonde aan die departement vleiswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het op die landboudiskoers op die Woordfees op Stellenbosch gesê daar word dikwels na meganies ontbeende vleis as wit of pienk slym verwys.

“Ek hou nie van die woord nie, want ‘slym’ wek die gedagte dat dit vuil en ongesond is. Dit is glad nie so nie.”

Hoenderborsies is die vleissnit waarvoor Amerikaanse en Brasiliaanse hoendervleisprodusente die grootste mark het. Die oorblywende dele van die karkas word meganiese ontbeen.

“Die prys waarteen dié twee lande hul hoenderborsies verkoop, dek die produksiekoste van die hele hoender. Enigiets wat hulle dan vir die orige vleis of bene kan kry, is ’n wins. Die orige vleis en bene – onthou, ’n kuiken van 28 tot 30 dae se bene is nog sag – word deur ’n pers gedruk. Wat aan die ander kant uitkom, is ’n amorfe stuk proteïene. 

“Dié proteïene, wat wit van kleur is, word gevries en in 25 kg-bokse verpak voor dit wêreldwyd uitgevoer word. Dit sal duur en tydrowend wees om elke besending aan Suid-Afrika se kant te toets. Sulke toetse sal ook die prys van die eindproduk opjaag.” 

Hoffman het verduidelik hoe worsies of polonie gemaak word. “Ons neem hierdie goedkoop proteïene – uitgeperste hoendervleis – en sit ’n bietjie varkvet, gedroogde soja en water by en meng dit om ’n emulsie te kry.”