Die grootste deel hiervan was luidens die jongste invoerverslag van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging meganies ontbeende vleis, naamlik 42,2%, en daarna stukke aan die been, naamlik 36,6%.

Die hoeveelheid stukke aan die been was 51,4% meer as in September verlede jaar en 63,5% meer as in Augustus vanjaar, ondanks die verhoging van die invoertarief van 37% tot 62% op dié snitte in Maart.

Danksy laer invoer in ander maande vanjaar, was die totale hoeveelheid braaihoender wat van Januarie tot September ingevoer is, naamlik 342 917 ton, minder as die 388 416 ton in die eerste nege maande van verlede jaar.

Altesame 130 482 ton stukke hoendervleis aan die been is in die eerste nege maande van 2020 ingevoer, vergeleke met 171 512 ton in ooreenstemmende tyd verlede jaar. 

Brasilië en Amerika loop voor

Volgens mnr. Anthony Clark van @SmallTalkDaily Research het die meeste van die ingevoerde hoendervleis in September steeds uit Brasilië gekom, naamlik 50,1%.

Van die 21 063 ton Brasiliaanse hoendervleis was 68,3% meganies ontbeende vleis en 9,7% agterkwarte.

Clark sê Amerika het sy markaandeel baie vergroot en in September was dit met 26,1% die tweede grootste bron van ingevoerde hoendervleis.

Altesame 96,3% van die ingevoerde Amerikaanse hoendervleis was stukke aan die been.

Clark sê in dieselfde maand het 16,8% van die ingevoerde hoender uit die Europese Unie gekom.

Invoer uit die Europese Unie kan egter voortaan geraak word deur onlangse voëlgriepuitbrekings in onder meer Brittanje en Nederland. Volgens Clark het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling reeds vroeg in November hoendervleisinvoer uit Nederland om dié rede verbied.